Betogers in Hongkong eis Lam se kop

Betogers ruim die strate op na die optog. (Foto: Vincent Yu/AP)

Betogers in Hongkong het Maandagoggend dié stad se strate begin ontruim om moontlike botsings met die polisie te voorkom, nadat Carrie Lam, die stad se uitvoerende leier, Saterdag aangedui het dat die voorgestelde uitleweringswet voorlopig laat vaar word.

Dié wetgewing het vrese verhoog dat dié voormalige Britse kolonie meer beheer aan Beijing daardeur gaan afstaan.

Die betogers eis dat Lam die voorgestelde wetgewing heeltemal skrap én bedank.

Hulle is ook woedend oor die polisie se gebruik van traanrook, rubberkoeëls en ander kragdadige optrede nadat betogers deur versperrings in die stad gebars het en omdat Lam die optrede as “onluste” beskryf. Dit vererger die moontlike wetlike gevolge vir diegene betrokke.

Lam het Sondagaand laat gesê die regering “verstaan die protes is gegrond op liefde vir en besorgdheid oor Hongkong”.

“Die uitvoerende hoof vra die mense van Hongkong om verskoning hiervoor en onderneem om ʼn meer opregte en nederige houding in te neem om kritiek te aanvaar en verbeterings te maak wanneer die publiek gedien word,” het die verklaring gelui.

Betogers sê die verskoning is nie goed genoeg nie en het dit as ʼn klap in die gesig beskryf.

“Ons is woedend dat Carrie Lam nie gereageer het op die eise van die betogers nie, maar nou is die regte tyd om te praat oor strategie en dié gesprekke gaan oor hoe om dit in ʼn langtermynstryd om te sit. As Carrie Lam nie reageer op die eise van betogers nie, gaan die mense terugkom en die stryd voortsit,” het Lee Cheuk-yan, ʼn voormalige lid van die wetgewer en aktivis, gesê.

Die polisie het kort ná dagbreek vir samewerking gevra om strate te ontruim, maar gesê betogers mag op die sypaadjies aanbly.

Vir ʼn tyd lank het betogers, sommige in maskers en met ander beskermende toerusting om hulle teen die moontlike gebruik van traanrook te beskerm, gedreunsing. Sommige betogers het selfs voor die polisie gekniel.

Honderde mense het in strate gesit of gelê, totdat hulle ingestem het om te skuif na ʼn plein buite die regeringsgebou asook ʼn groot park in die omgewing.

Aktiviste het inwoners van Hongkong gevra om weg te bly van werk en klasse, maar dis nie bekend hoeveel mense aan dié oproep gehoor gegee het nie.

Nagenoeg twee miljoen van die stad se sewe miljoen inwoners het volgens organiseerders vir Sondag se massa-optogte opgedaag. Volgens die polisie het 338 000 mense opgedaag.

ʼn Week tevore het soveel as ʼn miljoen mense opgeruk om te betoog teen Hongkong se verhouding met China in een van die strafste toetse nóg van dié gebied se spesiale status sedert Beijing sy bestuur in 1997 oorgeneem het.

Die tonele was soortgelyk aan dié van vyf jaar tevore toe betogers weke lank in die strate gekampeer het in protes teen reëls wat die direkte verkiesing van die stad se uitvoerende hoof verhoed het.

Die pro-demokrasie-betoger, Joshua Wong, kort na sy vrylating uit aanhouding. (Foto: Kin Cheung/AP)

Joshua Wong, een van die leiers van dié 2014-betogings wat as die sogenaamde Umbrella Movement-betogings bekend gestaan het, is intussen vanoggend uit die tronk vrygelaat en het onderneem om binnekort by die jongste vlaag betogings aan te sluit.

Hy het aan verslaggewers gesê hy het tyd nodig maar, “maak nie saak wat gebeur nie, ek gaan binnekort by die betoging aansluit”.

Wong (22) het tronkstraf uitgedien vir minagting vir sy betrokkenheid by die destydse betogings.

Inwoners van Hongkong is bekommerd dat die uitleweringswet wat voorsiening maak dat verdagtes in Beijing verhoor kan word net nóg ʼn stap is om Hongkong se vryhede en wetlike onafhanklikheid weg te kalwe. Kommer bestaan dat die wetgewing gebruik kan word om misdaadverdagtes na Beijing te stuur waar hulle tereg sal staan op vae politieke aanklagte en blootgestel kan word aan marteling en onregverdige verhore.

Betogers se woede is op Lam gemik, maar sy het weinig sê gehad in die uitvoering van Beijing se opdragte, waar pres. Xi Jinping toenemend outoritêr optree. Talle glo ook nie haar bedanking gaan sake beredder nie.

Nadat Lam aangekondig dat sy die wetgewing gaan opskort om meer geweld te voorkom en debat toe te laat, het Chinese amptenare verskeie verklarings uitgereik wat dié besluit steun. Lam het dit egter duidelik gestel dat sy nie die wetgewing skrap nie.

Sy het ook nog nie duidelik geantwoord óf sy gaan bedank nie en het die polisie se optrede tydens die betogings verdedig.

Sy hou vol die uitleweringswetgewing is nodig as Hongkong geregtigheid wil laat seëvier, sy internasionale verantwoordelikhede wil nakom en nié ʼn trekpleister vir voortvlugtiges wil word nie.

China is tot dusver uitgesluit van Hongkong se uitleweringsooreenkomste weens kommer oor sy regterlike onafhanklikheid en menseregterekord.

Die vervolging van aktiviste, die aanhouding sonder verhoor van vyf Hongkongse uitgewers en die onwettige inhegtenisneming van minstens een Chinese sakeman in Hongkong is maar sommige van die kwessies wat die stad se inwoners senuweeagtig maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

3 Kommentare

smurfie ·

Betogers ruim self hulle gemors op, WOW!
Sal NOOIT hier gebeur nie

Asjas ·

Daai paaie lyk skoon!! Is dit stof deeltjies wat hulle daar bymekaar maak??
Ek wonder wat sal hier gebeur as ons betogers vra om nie net skoon te maak nie maar alles wat verbrand en afgebreek is sommer ook te herbou.
Hulle het betoog en hul sin gekry sonder grootskaalse skade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.