Betogers, polisie slaags in Rotterdam oor Covid-inperkings

’n Polisiemotor en verskeie elektriese bromponies is aan die brand gesteek (Foto: Jeffrey Groeneweg/ANP/AFP)

’n Betoging teen koronavirus-inperkings wat vir Saterdag in Amsterdam beplan was, is gekanselleer nadat onluste Vrydagaand in Rotterdam uitgebreek het waartydens minstens sewe mense beseer is en die polisie waarskuwingskote afgevuur het.

Tientalle mense is in hegtenis geneem tydens die betogings teen die regering se voorneme om toegang tot sekere terreine vir oningeënte mense te beperk en ander beperkings in te stel. ’n Polisiemotor en verskeie elektriese bromponies is aan die brand gesteek.

Chaos het Vrydagaand in die middestad uitgebreek. Ahmed Aboutaleb, burgemeester van Rotterdam, het die “orgie van geweld” veroordeel.

“Die onluste en uiterste geweld teen die polisie, onlustepolisie en brandbestryders gisteraand in Rotterdam was afgryslik,” het die Nederlandse minister van veiligheid en justisie, Ferd Grapperhaus, Saterdag gesê.

“Die mans en vroue wat elke dag die strate invaar vir ons veiligheid, is met klippe en vuurwerke bestook. Die polisie en die staatsaanklaer se kantoor doen hul bes om hierdie oproeriges op te spoor, te vervolg en te straf,” het hy gesê.

“Ná gister se groot ontwrigting word orde nou herstel. Daar is baie skade, mense is beseer en mense is in aanhouding,” het die plaaslike polisie Saterdag op Twitter gesê.

Betogers kom in Rotterdam bymekaar (Foto: Killian LINDENBURG/ANP/AFP)

Die polisie het gerugte op sosiale media dat iemand tydens die geweld in Rotterdam dood is, ontken.

Soos in verskeie ander lande in Europa, beleef Nederland ’n skerp styging in Covid-19-gevalle die afgelope paar dae met meer as 21 000 nuwe infeksies wat Vrydag aangemeld is.

Die jongste beperkings is op 12 November aangekondig en het daartoe gelei dat betogers en polisielede buite die ministerie van justisie in Den Haag slaags geraak het.

Nederland het in Januarie sy ergste onluste in vier dekades beleef, onder meer ook in Rotterdam, nadat ’n Covid-aandklokreël in werking getree het.

Die Nederlandse regering oorweeg dit intussen om oningeëntes in kroeë en restaurante te verbied en toegang te beperk tot mense wat ingeënt is of wat van die siekte herstel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Barney ·

Die pandemie is alles opgemaak. Daar is niks behalwe kommunisme.

Ferdi ·

Wêreldwyd het mense genoeg gehad van al die reels en enperkings

Jacob ·

Ek kan nie anders as om steun uit te spreek vir die wat in opstand teen die belaglike regulasies en inperkings kom nie. Die sogenaamde inentings werk nie, so eenvoudig soos dit. Die aandrang dat mense ge-ent moet word kom neer op gedwonge deelname aan eksperimente en enige persoon wat die farmaseutiese maatskappye nog glo kan gerus kyk na die volgende;

1. Pfizer, 2009 – skuldig bevind aan kriminele oortredings en beboet met $ 1.3 miljard en betaal $ 1 miljard uit in skikkings
2. Johnson & Johnson 2013 – skuldig bevind aan kriminele oortredings en beboet met $ 2.2 miljard.
…ensovoorts…

As ons kyk na die boetes wat betaal is, kan hulle as kriminele gebrandmerk word en hoekom het niemand van een van die maatskappye nie tronkstraf uitgedien nie? Is amptenare moontlik omgekoop en indien ja, wat steek farmaseutiese maatskappye weg i.t.v. veiligheid van hulle Covid 19 entstowwe?

Waarom is hulle nog steeds gevrywaar van enige eise wat mag ontstaan as gevolg van hulle entstowwwe?

Mercia ·

Dit wys maar net dat hierdie illusie wat hoofstroom media probeer propageer dat hierdie Europese lande so “forward thinking” is en dat hulle maar gedwee en met ope arms verwelkomend is van hierdie drakoniese reëls en regulasies, verder van die waarheid is as wat ons kan dink.

Rooikopheks ·

Enigeen wat dink daar is nie ń pandemie nie, moet wakker wird en die koffie ruik. Lees die statistieke op MaroelaMedia, dis feite en nie uit die lug gegryp nie. Inenting werk, jy kan nogsteeds siek word, maar jy sal nie so siek word dat jy sal dood gaan nie. Dr’s en verpleeg personeel werk daagliks met siek covid pasiënte, hulle is gedaan en oorwerk. Die pandemie is ń werklikheid.

Samuel ·

Hoog tyd dat mense, ook plaaslik, in opstand kom teen hierdie gedwonge, absurde maatreëls. Die inentings WERK nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.