Betogings by Hongkong-lughawe duur voort

Betogers gebruik bagasiewaentjies om die vertreksaal te versper by die internasionale lughawe in Hongkong (13 Augustus 2019) (Foto: AP Photo/Vincent Yu)

Bedrywighede by die Hongkong- internasionale lughawe is Dinsdag ontwrig ná honderde vlugte skielik vir die tweede agtereenvolgende dag gekanselleer moes word weens betogings teen die regering.

Die lughawe-owerheid het aangekondig dat alle vlugte, waar passasiers nie teen 16:30 (0830 GMT) aan boord is nie, sal gekanselleer word. Vlugte wat op pad was na die lughawe – een van die wêreld se besigste lughawens, is toegelaat om te land.

Teen 20:00 het die inligtingsborde egter nog aangedui dat talle vlugte betyds sal vertrek, en reisigers is dus onseker of hulle die lughawe moet verlaat of nie.

Dit is die vyfde agtereenvolgende dag van betogings by die lughawe en betogers wil internasionaal aandag trek vir hul protes teen die regering. Honderde betogers het gedreunsing “Veg vir vryheid! Staan op vir Hongkong!” en die vertreksaal versper. Bagasiewaentjies is gebruik om reisigers te verhoed om verby die betoging te beweeg.

“Ons versper die vertreksaal, sodat besoekers, wat Hongkong wil verlaat, dit nie kan doen nie,” het ʼn betoger, Joshua Wong, gesê.

James Regan, ʼn Australiër op pad na Engeland, het aan dpa-nuusagentskap gesê hy is al twee dae lank gestrand in Hongkong. “Ek wou probeer uitvind wat om te doen, maar daar was hoegenaamd geen hulp nie – geen personeel nie, niks nie. Ons het op e-pos gehoor ons vlug is gekanselleer, en toe het ons ʼn hotelkamer bespreek.”

Nathan Gallipoli, ook van Australië, het gesê alhoewel hy die betogings dopgehou het vir die twee maande wat hy in Hongkong was, begin hy nou ongeduldig raak met die betogers. “Ek gee nie meer om nie. Ek het nie meer simpatie nie,” het hy gesê.

Duisende betogers het ook in die aankomssaal saamgedrom om pamflette uit te deel aan toeriste oor polisiegeweld.

ʼn Vrou van Engeland, Tanya, wat nie haar van wou gee nie weens professionele redes, het gesê sy moes HKD4 000 (ongeveer R7 700) spandeer aan ʼn hotelkamer, nadat haar verbindingsvlug na Bahrain gekanselleer is.

Ander besoekers slaap op die vloer van die lughawe, omdat hulle nie hotelkamers kon bespreek nie.

Carrie Lam, leier van Hongkong, het vroeër haar ondersteuning aan die polisiemag benadruk. Sy het aan verslaggewers gesê die polisie “sukkel die afgelope twee maande om die wet toe te pas”, omdat die betogings die verkeer ontwrig en dit ook na residensiële gebiede oorgespoel het.

Lam wou nie aanspreeklikheid aanvaar vir polisiegeweld nie, en gesê “polisiebedrywighede kan nie bepaal word deur iemand soos ek wat buite die polisie staan nie; veral nie wanneer die polisie op die ingewing van die oomblik ʼn besluit moet neem nie”.

Betogings het op 9 Junie begin teen ʼn wetsontwerp wat uitlewering aan China sou toelaat. Die wetsontwerp is intussen opgeskort. Hongkong het in 1997 beheer aan die Volksrepubliek China teruggegee, maar het tot 2047 ʼn afsonderlike regstelsel onder die “een land, twee stelsels”-ooreenkoms.

Tlali Tlali, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het intussen gesê vlugte tussen Suid-Afrika en Hongkong bly gekanselleer. “Ons moedig passasiers aan om hul kontakbesonderhede op die webwerf by te werk om seker te maak dat ons hulle per e-pos of SMS op hoogte kan hou.” Kontak die SAL by 011 978 1111 of 0861 606 606.

“SAL vra om verskoning vir enige ongerief aan sy passasiers weens die kansellasies.”

Die lugdiens sal sy vlugte hervat sodra die situasie na normaal terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Ja hierdie dinge bebeur NET in SA, nerens anders nie. Snaaks dat wanneer so iets in die buiteland gebeur media stil maar jong in SA wereldnuus.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.