Betogings oor inperkingsregulasies kring wyer uit

‘n Straat in Brussel te midde van die betogings. (Foto: Kenzo TRIBOUILLARD / AFP)

Die Nederlandse premier, Mark Rutte, het Maandag dié land se voortslepende betogings teen koronavirus-inperkings as “suiwer geweld” deur “idiote” bestempel en onderneem om die oortreders te vervolg.

Minstens 130 mense is reeds in hegtenis geneem, vier mense is gewond en verskeie polisiebeamptes is beseer sedert chaos Vrydag vir die eerste keer in Rotterdam uitgebreek het.

Die geweld het sedertdien na onder meer België en so ver as Frankryk se Karibiese eiland Guadeloupe uitgekring, waar winkels aan die brand gesteek is en skole noodgedwonge hul deure moes sluit.

Dít terwyl Duitsers Maandag gewaarsku is dat almal teen die einde van die winter “óf ingeënt, óf genees óf dood sal wees” en Oostenryk weer gedeeltelik ingeperk is in ’n poging om die verspreiding van die koronavirus te beperk.

Moontlikhede van ’n vierde virusvlaag in Europa word toegeskryf aan trae inenting in sommige lande, die aansteeklike Delta-variant en die kouer weersomstandighede wat mense binnenshuis hou.

Rutte het Maandag die onrus in Nederland as “pure geweld onder die dekmantel van protes,” aan plaaslike media bestempel.

Die premier het gesê hy sal altyd die reg om te betoog verdedig, maar “sal nooit aanvaar dat idiote suiwer geweld gebruik nie”.

Talle Nederlanders is gekant teen die Nederlandse regering se voorneme om toegang tot sekere terreine vir oningeënte mense te beperk en ander beperkings in te stel. Dié land is sedert verlede week weer gedeeltelik ingehok weens ’n toename in positiewe virusgevalle.

Chaos het Vrydagaand in die middestad van Rotterdam uitgebreek en die was polisie genoodsaak om waarskuwingskote af te vuur.

Brande is Saterdag in onder meer Den Haag gestig waarna betogers vuurwerk gegooi en eiendom in Groningen en Leeuwarden in die noorde, Enschede in die ooste en Tilburg in die suide gevandaliseer het.

Franse burgers ook ontevrede

De Franse owerhede moes intussen ook beamptes na Guadeloupe stuur in ʼn poging om die geweld daar te stuit nadat talle betogers opgeruk het oor die verpligte inenting van gesondheidswerkers.

Altesame 38 mense is Sondag op dié eiland in hegtenis geneem nadat hulle die aandklokreël verontagsaam het en winkels en apteke aan die brand gesteek het. Twee veiligheidsmagte is tydens die chaos beseer.

Die Franse pres. Emmanuel Macron het intussen die situasie as “baie plofbaar” bestempel.

“Ons speel nie met gesondheid nie en ons sal nie toelaat dat daar met die gesondheid van die Franse gespeel word ter wille van politieke binnegevegte nie,” het Macron gesê.

Die Franse eerste minister, Jean Castex, die minister van oorsese gebiede, Sebastien Lecornu, en die minister van gesondheid, Olivier Veran, het intussen ’n noodvergadering met wetstoepassingsowerhede in Guadeloupe vir later vandag belê om die situasie op die eiland te bespreek.

Ander lande loop ook deur

Die Belgiese eerste minister, Alexander de Croo, het op sy beurt gesê dit is “absoluut onaanvaarbaar” nadat 35 000 betogers die strate van Brussel ingevaar het om teen strenger afsonderingsregulasies te betoog.

In Duitsland het die minister van gesondheid intussen te midde van die chaos in ander Europese lande ’n beroep op sy land se burgers gedoen om so gou moontlik ingeënt te word.

“Ons het ʼn baie ernstige situasie op hande aangesien nuwe infeksies elke 12 dae verdubbel”, het die Duitse kanselier Angela Merkel aan leiers van haar konserwatiewe CDU-party gesê.

Kersmarkte is tans gesluit in dele van Duitsland wat tans die ergste deur virusgevalle getref word.

Ook Oostenryk het Maandag winkels, restaurante en Kersmarkte gesluit.

Dié land se 8,9 miljoen inwoners word slegs toegelaat om die huis te verlaat om te gaan werk, inkopies te doen en te oefen.

Skole in Oostenryk bly vir eers oop.

Ook in buurland Slowakye word mense deur strenger beperkings in die gesig gestaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Barney ·

Eenvoudig. Die geweld sal stop as mense se regte eerbiedig word.

Luister ·

Wie se regte? Die wat inspuit en hoop om die virus in die kiem te smoor, of die wat wil hê alles moet net so aangaan soos nou?

Mercia ·

Die ononderhandelbare reg op vryheid. Die ge”hoop” dat die inentings ” die virus in die kiem sal smoor” se skip het dan nou al verbygeseil en die hawe heeltemal gemis. Dit smoor niks behalwe mense se vryheid van keuse nie….aangesien die ingeëntes nog steeds covid kry en covid gee.

Pieter ·

Tyd dat ons dit ook doen die anc kommuniste dink hulle kan net doen wat hulle wil. Ry elke dag verby taxis nie mand het n masker op nie, nie eers die taxi best nie.

JohanR ·

Kan ons ontslae raak van NDZ en haar Europa toe stuur? Ek weet ek sal haar glad nie mis nie!

Papsak ·

Ek stem eerbiedig ons geregtigheid en dit sal nie gebeur nie

KB ·

Dis darem die mees onnosele waarskuwing aan die Duitsers wat ek in ‘n lang tyd gehoor het!
Verder:
Die wêreld wil “genade-dood” wettig, maar met Covid-19 mag jy nie oor jou eie liggaam/gesondheid besluit nie…dit rym nie.

Dirk Mostert ·

Bravo vir die betogers. Dis die staatshoofde wat idiote is. Wonder of die ou guillotine nog in werkende toestand is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.