‘Bewyse’ dat Madeleine McCann dood is – Duitse owerhede

Madeleine McCann.

Volgens die Duitse owerhede is daar bewyse dat Madeleine McCann dood is hoewel meer inligting benodig word om ʼn verdagte voor ʼn hof te daag.

Dít volg kort nadat die Britse en Duitse polisie verlede week bekend gemaak het dat ʼn 43-jarige Duitse man nou van Madeleine se verdwyning verdink word. Dié driejarige Britse meisie het in 2007 spoorloos verdwyn terwyl haar gesin in Portugal vakansie gehou het.

Die verdagte is intussen in berigte geïdentifiseer as Christian Brückner. Brückner is voorheen skuldig bevind aan seksuele misdrywe teenoor kinders en dien tans tronkstraf in Duitsland uit vir die verkragting van ʼn 72-jarige Amerikaanse vrou in 2005.

Hans Christian Wolters, die staatsaanklaer in Braunschweig, Duitsland, het Maandag gesê daar is bewyse dat Madeleine dood is, maar nie genoeg vir ʼn moordverhoor nie.

Die staatsaanklaer Hans Christian Wolters (Foto: AP Photo/Martin Meissner)

“Ons het nog nie die belangrikste bewys, naamlik Madeleine McCann se liggaam, nie,” het Wolters verduidelik. “Ons verwag dat sy dood is, maar ons het nie genoeg bewyse dat ons in Duitsland ʼn lasbrief vir die moord op Madeleine McCann kan kry nie.”

Oor Brückner se vervolging sê hy: “Ons het tans nie genoeg bewyse vir ʼn verhoor nie, maar wel dat die verdagte die daad gedoen het. Daarom het ons meer inligting nodig van mense, veral oor die plekke waar hy gewoon het, sodat ons daardie plekke kan teiken en daar na Madeleine kan soek.”

Die owerhede doen nou ʼn beroep op Britse toeriste wat die omgewing van Praia da Luz tussen 1995 en 2007 besoek het om na vore te kom met inligting.

Brückner het gedurende dié tyd in die Algarve-streek in Portugal gewoon, waartydens hy ook in ʼn huis in Praia da Luz, die vakansieoord waarvandaan Madeleine destyds verdwyn het, gewoon het.

Die woonstelblok in Portugal waar Madeleine McCann destyds verdwyn het. (Foto: AP Photo/Armando Franca)

Duitse aanklaers ondersoek intussen die moontlikheid dat die verdagte met die verdwyning van drie ander kinders verbind kan word, onder wie ʼn sesjarige seuntjie wat in 1996 ook in Portugal verdwyn het.

Die verdagte word ook moontlik verbind met die verdwyning van Carola Titze (16) wat in 1996 gedurende ʼn vakansie in België verdwyn het en Inga Gehricke (5) wat in 2015 in Duitsland verdwyn het. Dié kinders is, nes Madeleine, vermoedelik vermoor.

Maroela Media het vroeër berig Madeleine se ouers, Kate en Gerry, het die aand van 3 Mei 2007 vir Madeleine en haar jonger broer en suster, ʼn tweeling en destyds twee jaar oud, in hul vakansiewoonstel gelos waar hulle geslaap het. Die ouerpaar het saam met vriende by ʼn restaurant sowat 55 m van die woonstel af gaan eet, maar kort-kort deur die loop van die aand om die beurt na die woonstel teruggegaan om te kyk of die kinders veilig is. Omstreeks 22:00 het Kate weer gaan kyk en toe vasgestel dat Madeleine uit haar bed verdwyn het.

Sy is nooit weer gesien nie.

Bronne: The Guardian, The New York Post

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

They live, work, socialize and move among us…..and watch our children! Daar is een in Kaapstad wat al verskye keure vas getrek is, en wat ‘n ouer vroeer vanjaar by ‘n sportsbyeenkoms by een van die skole, sien kiekies neem. Sy het hom herken, en gekonfronteer saam met ander ouers, en toe die polisie gebel.

marius ·

Dis nou waar ‘n paar gewigstoot balle goed sou werk . Sommer op die veld .

Lorna ·

Dit is jammerlike nuus maar so ook vir ouers wat onder verdenking was en hopelik kan afskeid neem

sopbeen ·

Dit is enige ouer se grootste nagmerrie. Mag ons Hemelse Vader hul deur hierdie beproewing dra. Mag satan sy greep op hierdie man verloor en die waarheid uit kom sodat almal berusting kan vind. Amen

Niklaas ·

Daar is net teveel sulke siek mense op die planeet. Die feite van Maddie se lot moet net bewys word , dan sal die arme ouers afsluiting hê oor hul pragkind. Dis elke ouer se groot vrees om so ‘n nagmerrie te beleef.

Hekwag ·

Nou sal al die doemprofete die ouers om verskoning moet vra!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.