Beyoncé is nou koningin van die Grammy’s

Beyoncé tydens die 65ste Grammy-toekennings. (Foto: Emma McIntyre/Getty Images via AFP)

Popkoningin Beyoncé het Sondagaand tydens die 65ste Grammy-toekennings geskiedenis gemaak en haar 32ste goue grammofoonbeeldjie ingeoes.

Sy het dié Grammy-rekord van alle tye beklink deur die prys te wen vir beste dans/elektroniese album vir haar jongste album Renaissance.

Sodoende oortref sy die ontslape klassieke dirigent Georg Solti, wat 31 toekennings gekry het. Sy rekord het vir meer as 20 jaar gestaan.

Adele, Beyoncé en Lizzo tydens die toekenningsgeleentheid. (Foto: Billboard/Instagram)

Hoewel sy van haar vroeë oorwinnings weens verkeer misgeloop het, was die 42-jarige ma van drie betyds om haar vierde prys vir die aand te ontvang. “Ek probeer om nie te emosioneel te wees nie. Ek probeer om hierdie aand net te beleef,” het sy op die verhoog gesê.

Beyoncé is reeds die vrou met die meeste Grammy-toekennings in die sakkie en is ook kop aan kop met haar man, Jay-Z, vir die kunstenaar met die meeste Grammy-benoemings. Dié egpaar spog elkeen met 88 benoemings.

Ondanks haar sukses het die sanger egter die gesogte album van die jaar-toekenning vir ʼn vierde keer verloor, dié keer aan die Britse popsanger, Harry Styles vir sy derde solo-album, Harry’s House.

Beyoncé het ook nog nooit lied van die jaar gewen nie. Die erkenning het vanjaar aan Lizzo gegaan het vir haar treffer, “About Damn Time”.

“Op aande soos vanaand is dit natuurlik vir ons so belangrik om te onthou dat daar nie iets soos die beste in musiek is nie,” het Harry in sy toespraak gesê.

Harry Styles en Trevor Noah tydens die geleentheid. (Foto: Billboard/Instagram)

Hy het vroeër die aand ook die toekenning vir die beste popalbum gewen. Harry het die skryf en opname van sy jongste album as die beste ervaring van sy lewe bestempel.

Adele, een van die aand se mees benoemde kunstenaars, het net een toekenning in die popkategorieë huis toe geneem, terwyl Taylor Swift se kortfilm die prys vir die beste musiekvideo gekry het. Dié kortfilm is gebaseer op ʼn 10-minute weergawe van haar liedjie, “All Too Well”.

Maroela Media het vroeër berig dat Taylor se splinternuwe album, Midnights, nie vir die jongste Grammy-seisoen gekwalifiseer het nie. Volgens die Recording Academy se riglyne, is net musiek wat tussen Vrydag 1 Oktober 2021 en Vrydag 30 September 2022 uitgereik is, in ag geneem vir die 65ste Grammy-toekennings. Aangesien Midnights op 21 Oktober vanjaar uitgereik is, sal dit eers vir die 2024-toekennings in ag geneem kan word.

Taylor Swift op die rooitapyt. (Foto: Billboard/Instagram)

Die Amerikaanse aktrise Viola Davis is ná Sondag ook ’n lid van die gesogte en eksklusiewe EGOT-klub: vermaaklikheidsterre wat ‘n Emmy-, Grammy, Oscar- en Tony-toekenning gewen het.

Davis het die Grammy vir beste oudioboek, vertelling en storievertelling vir haar memoir, Finding Me, gewen.

Beide die folk-rocker Brandi Carlile en die kletsrymer Kendrick Lamar het die aand met drie toekennings elk afgesluit.

Dié sterbelaaide 65ste jaarlikse geleentheid, wat weereens deur die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah aangebied is, het ook optredes van Harry, Lizzo en Mary J. Blige, asook ‘n uitbundige huldeblyk aan hip-hop-musiek gehad.

Sien die volledige lys van wenners hier.

Bykomende bronne: BBC, E! News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eclectus ·

Dit maak haar nie die beste nie. Dis soos die Amerikaners wat die wêreldreeks in bofbal aanbied maar hulle is die enigste deelnemers. Net so is daar honderde duisende goeie musikante in die wêreld maar slegs dié wat by voorkeur na die pype van die musieknywerheid dans haal die kollig.

Yolandie ·

Who cares – dink die celebs ons stel nog aan hulle belang??? I don’t think so.

George ·

Ek dink nie hulle gee enigens om nie, in Amerika stel mense beslis belang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.