Bezos onttroon Musk as wêreld se rykste

Amerikaanse entrepreneur en stigter van Amazon Jeff Bezos (15 Augustus 2022) (Foto: Xavier Collin/Image Press Agency/NurPhoto via AFP)

Amazon-stigter Jeff Bezos het Maandag sy titel teruggekry as die wêreld se rykste man. Hy het Elon Musk op die Bloomberg Billionaires-indeks onttroon.

Bezos se nettowaarde beloop $200 miljard, aldus die indeks – ʼn rapsie meer as die Tesla-hoof se $198 miljard.

Musk, ook hoof van X (voorheen Twitter) en SpaceX, se rykdom het met meer as $30 miljard gedaal toe Tesla se aandeelprys die afgelope paar maande met 25% gedaal het.

ʼn Hof het in Januarie boonop Musk se enorme vergoedingsooreenkoms van $55,8 miljard, wat in 2018 aangegaan is, nietig verklaar.

Bezos, wat nie meer Amazon bestuur nie, het intussen voordeel getrek uit die e-handelsreus se stygende aandeelprys. Selfs ná hy $8,5 miljard se aandele verkoop het, bly hy die maatskappy se grootste aandeelhouer.

Bernard Arnault, uitvoerende hoof van die Franse luukse groep LVMH, behou sy derde plek met $197 miljard.

Oud-Twitter-hoës dagvaar Musk

Elon Musk. (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

Voormalige uitvoerende lede van Twitter het Musk ook Maandag gedagvaar omdat hy glo versuim het om hulle nagenoeg $130 miljoen te betaal ná hy die platform oorgekoop en hulle in die pad gesteek het.

“Musk betaal nie sy rekeninge nie. Hy glo die reëls is nie op hom van toepassing nie. Hy gebruik sy welvaart en rykdom om enigiemand te stoomroller wat van hom verskil,” lui die dokumente wat by ʼn federale hof in Kalifornië ingedien is.

Die eisers sluit in voormalige uitvoerende hoof Parag Agrawal, wat volgens die hofsaak $57,4 miljoen in voordele eis, asook afgedankte finansiële hoof Ned Segal wat $44,5 miljoen eis.

Ander eisers sluit in die voormalige hoof-regsbeampte Vijaya Gadde en die maatskappy se voormalige algemene regsverteenwoordiger Sean Edgett.

Musk het Agrawal, Gadde en Segal in Oktober 2022 afgedank ná sy omstrede $44 miljard-oorname van Twitter.

Volgens die hofsaak, met aanhalings uit ʼn onlangse gemagtigde biografie van Musk, het hy uit sy pad gegaan om seker te maak dat die uitvoerende lede nie kon bedank voor hy hulle afgedank het nie. Hulle het “behoorlik en met alle erns die belange van Twitter se openbare aandeelhouers beskerm deur Musk se wederregtelike poging om kop uit te trek. Vir hul pogings, het Musk ʼn leeftyd se weerwraak gesweer”, lui die hofstukke.

Dit verwys na die maande voor die oorname toe Agrawal en sy span hof toe is om die Tesla-hoof aanspreeklik te hou vir die oorname ná hy wou kop uittrek.

“Omdat Musk besluit het hy wou nie die eisers se vergoedingsvoordele betaal nie, het hy hulle bloot sonder rede afgedank.”

Twitter, wat intussen X gedoop is, se personeelgetalle is drasties besnoei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

George ·

En albei van hulle laat hul mense in halglike omstandighede werk. Alles vir hul eie gewin.

Hendrik ·

Hart werk het niemand nog skade gedoen nie. George brei ‘n bietjie uit op die halglike omstandighede?

Danie ·

Die personeel van daardie mpye is van die hoogs betaalde in die wereld.
Maar hulle werk in haglike omstandighede?

Aggie ·

Die gedagte het by my opgkom van die ryk man van die Bybel (Lukas 12:16)

Marthinus W ·

Musk betaal belasting; op n stadium was hy die Amerikaner wat die meeste belasting betaal het. Bezos en die ander superrykes spog dat hulle nie belasting betaal nie – of baie min. Warren Buffett het erken dat die belastingstelsel geskep is om rykes te bevoordeel; hy noem dat sy sekretaresse meer belasting betaal as hy [sy verdien n salaris; hy verdien wins op sy beleggings]. Waarom spog as jy nie jou deel aan belasting betaal nie?

Delia ·

En GELUKKIG kan almal hulle baie geld saamvat tot in die hiernamaals

Cherokee ·

Hendrik, moet nie jou aan strooi steur nie. Hy gee net voor te weet, maar bewys die teenoorgestelde.

Cherokee ·

Jan Jacobs, jou grappie is nie werklik snaaks nie. Bloot onkundig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.