Biden al nader aan Withuis; Trump beweer verkiesing word ‘gesteel’

Die Amerikaanse pres. Donald Trump en die man wat hom die stryd aansê, Joe Biden. (Foto’s: ANA)

Terwyl die Amerikaanse pres. Donald Trump se hoop op ʼn tweede termyn in die Withuis oënskynlik vervaag terwyl meer stemme in enkele slagveldstate nog getel word, het die president ʼn buitengewone aanval op die land se demokratiese proses geloods en aangevoer die verkiesing word van hom “gesteel”.

Trump het nie bewyse hiervoor aangebied nie, maar het verkiesingswerkers gekap en beweer bedrog word gepleeg in die state waar uitslae van ʼn krimpende poel stemme die Demokrate se Joe Biden al nader aan oorwinning bring.

“Dit is ʼn geval van waar hulle die verkiesing probeer steel,” het Trump in die Withuis gesê. Hy het sowat 15 minute gepraat voordat hy die vertrek verlaat het sonder om enige vrae te beantwoord.

Biden, die voormalige adjunkpresident, kalwe stadigaan weg aan die Republikeinse president se voorsprong in Pennsilvanië en Georgia. Hy behou ook klein voorspronge in Nevada en Arizona, maar kruip al nader aan die 270 stemme in die kieskollege wat uiteindelik die wenner van die verkiesing bepaal.

In Pennsilvanië het Trump se voorsprong van 319 000 Woensdagmiddag tot nagenoeg 50 000 Donderdagaand gekrimp, terwyl die marge in Georgia van 68 000 tot 2 500 afgeneem het. Die syfers gaan na verwagting al hoe meer in Bidens se guns beweeg. Talle van die uitstaande stembriewe is uit gebiede wat tipies Demokraties stem. Dit sluit die stede Philadelphia en Atlanta in.

Biden se voorsprong in Arizona het intussen van 93 000 tot sowat 48 000 gekrimp, terwyl hy in Nevada met net sowat 11 000 stemme voorloop.

Biden sal die volgende president word as hy Pennsilvanië oorwin, of deur twee van die state tussen Georgia, Nevada en Arizona in te palm. Trump se roete is veel steiler. Hy moet vasklou aan Pennsilvanië en Georgia, terwyl hy Biden in óf Nevada óf Arizona moet verbysteek.

Die meeste groot televisienetwerk het Biden ʼn voorsprong van 253 teenoor 214 in kieskollegestemme gegee – dit word grootliks bepaal deur state se bevolkings – nadat hy die belangrike state van Wisconsin en Michigan in die sak kon steek.

Betogers in verskeie Amerikaanse stede het vir ʼn tweede agtereenvolgende dag die strate ingevaar en die verkiesing is nou in die hande van burgerlike werkers wat noukeurig deur die magdom stembriewe werk. Talle daarvan is boonop weens die Covid-19-pandemie gepos.

Dit kan nog dae duur voor die finale uitslae in verskillende state verklaar word. In Pennsilvanië moet nog 350 000 stembriewe verwerk word, in Arizona 400 000 en in Nevada is 190 000 stemme nog nie getel nie.

Trump se opmerkings volg op ʼn reeks twiets vroeër die dag waarin hy gevra het dat stemtellery gestaak word, selfs al is hy in soveel state agter Biden dat hy in só ʼn geval die tuig moet neerlê.

Die Trump-kamp het ook reeds verskeie hofsake in Georgia, Michigan, Nevada en Pennsilvanië aanhangig gemaak, hoewel regters in Georgia en Michigan dit vinnig van die hand gewys het.

Regskenners meen Trump het ʼn skrale kans om op hierdie manier die uitslag van die verkiesing te beïnvloed.

Biden het in reaksie gesê demokrasie is soms morsig en het mense gevra om kalm te bly. “Soms vereis dit ook ʼn bietjie geduld. Maar daardie geduld word nou al meer as 240 jaar lank beloon in ʼn regeringstelsel wat deur die res van die wêreld beny word.”

Die uitslae beklemtoon die land se diepe politieke verdeeldheid en die stadige tellery van die miljoene geposde stembriewe is ʼn herinnering van die dodelike pandemie wat steeds mense se lewe ontwrig.

Trump-vertrouelinge sê die president hou alle verwikkelinge fyn dop en praat gereeld met goeie vriende en adjudante in die veld.

Twitter en Facebook het intussen van verskeie van die president se plasings as misleidend gemerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

70 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mad Mike die Rhodesiër

Hou Trump dop! Hy is mos die “chosen one”…

Connie

Ek glo en hoop Trump wen. Go Trump

Adriaan

Die bron van die berig is Reuters en beeld Pres Trump doelbewus uit in n slegte lig. Daar is baie voorbeelde van ongerymdhede, wat strek vanaf dooie mense wat vir Biden gestem het tot Trump stembriewe wat weggegooi is sonder om getel te word.

Dirk Mostert

Trump is absoluut reg! Die grafieke van progressiewe totale stemme vir Wisconson en Michigan wys die presiese oomblik, dieselfde oomblik vir die twee state, toe honderdduisende Biden-stemme (sonder enige Trump-stemme) bygekom het. Opsigtelik vals stemme.

Werner

Trump for SA president Hy is die beste