Biden gaan sy hande vol hê met verdeelde VSA

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Joe Biden gaan sy hande vol hê, selfs nog voordat hy op 20 Januarie volgende jaar amptelik as president ingehuldig word.

Volgens projeksies het Biden genoeg kieskollege-stemme op hom verenig en het hy die Amerikaanse presidentsverkiesing gewen. Dit kom te midde van Donald Trump se bewerings dat daar bedrog met posstemme voorgekom het. Trump het verskeie regsaksies gebring en daarop aangedring dat stemme in verskeie state weer getel word.

Biden se belofte in die laaste debat teen president Trump dat sou hy verkies word, hy Amerikaners gaan verenig, gaan moeiliker wees as wat hy dalk gedink het. Ten spyte van sy oorwinning Dinsdag, is die VSA meer verdeeld as op enige tydstip die afgelope eeu en Biden kan hom vasloop in voortdurende protes van konserwatiewe Amerikaners en ook hernieude spanning tussen gematigde en linkse stemme in sy eie party.

Biden het ’n duidelike mandaat van ’n meerderheid van Amerikaanse kiesers in die afgelope verkiesing gekry. Amerikaanse kiesers se keuse vir Biden was egter grootliks ’n keuse teen president Donald Trump se hantering van die Covid-19-pandemie en ’n meerderheid Amerikaners se frustrasie met die voortslepende gesondheidsorgkrisis.

Trump het, ten spyte van talle beleidsuksesse, die afgelope vier jaar net te veel – veral middelklas gematigde kiesers – met sy voortdurende aanvalle en uitbarstings vervreem. Hy het die prys daarvoor betaal.

Biden was tydens die benoemingstryd van die Demokratiese Party nooit ’n gemaklike gunsteling nie. Die mees geharde ondersteuners van die party wou veel eerder ’n meer progressiewe kandidaat kies, maar daar was nie konsensus oor wie dit moes wees nie. Nadat dit later in 2019 duidelik begin raak het dat die sterk Amerikaanse ekonomie president Trump se kanse om herkies te word, versterk het, het Demokrate vir mekaar begin sê dat Biden ’n veilige keuse teen Trump kon wees.

Pres. Donald Trump. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Terwyl miljoene Demokrate tydens die benoemingsproses meer progressiewe en linkse kandidate gesteun het, het hierdie Demokrate uit ’n gedeelde afkeur vir Trump, ingestem om Biden se kandidatuur te ondersteun. Dit is hierdie einste Demokrate wat nou vergoeding vir hul steun gaan eis. Hul eise van linkse ekonomiese ingrepe en radikale politieke transformasie is deeglik bekend.

Biden se verkiesing as president Dinsdag was egter nie net weens sterk steun van linkse kiesers nie, maar ook weens ’n toename in steun van gematigde, voorstedelike kiesers. Baie van hierdie gematigde kiesers het in 2016 vir Trump gestem én het in 2000 en 2004 vir George W. Bush gestem. Hierdie kiesers is meestal meer welvarend en in baie gevalle ten gunste van die behoud van ’n breë konserwatiewe ekonomiese beleid. Hulle het teen Trump gestem omdat hulle keelvol was vir sy verdelende, onpresidensiële gedrag en die wyse waarop hy die VSA op die globale verhoog gedeeltelik geïsoleer het. Hulle het nie gestem ten gunste van linkse ekonomiese ideale en radikale politieke transformasie nie.

Die leiersfigure in die meer radikale linkse deel van die Demokratiese Party het hulle eise reeds voor die verkiesing bekendgemaak. Hulle wil ’n federale minimumloon van $15 per uur, ingefaseer oor ’n periode van vyf jaar, hê. Die federale minimumloon is tans $7,25.

Die Employment Policies Institute in die VSA bereken dat ’n skerp verhoging soos dié in die minimumloon tot twee miljoen werksverliese, veral vir laaggeskoolde werknemers, kan lei. Dit is veral deelstate waar die Republikeinse Party goed gedoen het, en waar president Trump gewen het, wat deur hierdie werksverliese geraak gaan word. So ’n verhoogde minimumloon gaan waarskynlik in die hoogste hof uitgedaag word.

Hiermee saam dring linkse aktiviste in die Demokratiese Party ook aan op meer regte vir vakbonde. In verskeie deelstate is dit tans moeilik vir vakbonde om kollektiewe bedingingsooreenkomste met werkgewers te sluit.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Oor die afgelope maand was daar voortdurend onderhandelinge tussen die Trump-administrasie en Demokrate in die Amerikaanse kongres in ’n poging om ’n nuwe ekonomiese hulppakket daar te stel. Trump en die Republikeine het egter Demokrate se eise vir meer geld aan sukkelende deelstate en munisipaliteite geweier. Noudat Biden gewen het en Demokrate die Amerikaanse kongres beheer, sal hulle kan voortgaan om soveel as een triljoen dollar aan sukkelende deelstate en munisipaliteite, die meeste in gebiede waar Biden gewen het, beskikbaar te stel.

Biden sal ook kort ná sy inhuldiging wil begin om streng nuwe omgewingsregulasies in te stel. Daarmee saam kan verwag word dat hy en Demokrate in die kongres gaan saamwerk om toegang tot aborsies en die befondsing daarvan te vergemaklik en om strenger wapenbeheerwetgewing in te stel.

Biden se belofte van belastingverhogings op persone wat meer as $400 000 per jaar verdien, sal waarskynlik ook vinnig ingestel word. Biden en sy administrasie sal alles moontlik doen om toegang tot gesondheidsorg uit te brei deur die regering se rol in die beskikbaarstelling van mediese dekking uit te brei. Sy uitdaging is egter dat die Amerikaanse federale staatskuld geweldig vinnig styg en dat dit nie vir altyd so kan voortduur nie.

Verder het Biden ook ’n groot uitdaging met radikale eise dat polisiedepartemente se befondsing gestaak moet word. Geweld in Amerika se grootste stede het die afgelope tyd wesenlik toegeneem en hoe Biden dit gaan aanpak sonder om die steun wat hy uit die Black Lives Matter-beweging geniet, te vervreem, is onduidelik. Die meeste polisielede in die VSA het Trump gesteun en terwyl daar reeds ’n groot uitvloei van ervare polisielede in geweldgeteisterde stede is, sal Biden moet fyntrap om nie verdere olie op die vuur te gooi nie.

Linkses se eise dat die hoogste hof uitgebrei moet word deur die byvoeging van drie of vier ekstra regters gaan ook, sou Biden dit ondersteun, aanleiding tot grootskaalse protes gee. Dit kan ’n baie riskante politieke stap wees wat gematigde kiesers vinnig van die Demokratiese Party sal vervreem.

Joe Biden en Kamala Harris. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Terwyl Biden se aandag aanvanklik op knellende sake soos die Covid-19-pandemie gefokus sal wees, sal hy sekerlik na leiers in ander wêrelddele uitreik om sy verbintenis tot ou bondgenootskappe en veral globale instellings soos die Verenigde Nasies te bevestig. Biden se buitelandse beleid sal na alle waarskynlikheid grootliks op ’n herstel van die Obama-era geskoei wees. Die groot vraag is natuurlik wie Biden as sy minister van buitelandse sake gaan aanwys. Daardie persoon sal waarskynlik ’n mandaat hê om vinnig op te tree en namens Biden met leiers wêreldwyd te ontmoet.

Dit gaan egter nie so maklik vir Biden wees om eenvoudig die Trump-era uit te vee en net terug te keer na ’n beleidsomgewing wat voor 2016 geheers het nie. Die spanning tussen die VSA en China is ’n werklikheid en Biden sal geldige punte wat deur Trump ontbloot is, moet hanteer.

In die VSA begin ’n verkiesingsveldtog gewoonlik onmiddellik nadat die uitslag van die vorige veldtog bekend gemaak is. Die volgende middeltermynverkiesing in 2022 sal die eerste kans vir Republikeine wees om te hergroepeer en weer beheer oor die Amerikaanse kongres en verskeie kongresse in die onderskeie deelstate te probeer kry.

Intussen sal die Republikeinse party nou ’n tydperk van besinning binnegaan. Die party sal moet besluit of hy in die rigting waarop Trump die party geplaas het, gaan voortgaan. ’n Groot stryd tussen Trump-ondersteuners en persone wat ’n nuwe visie vir die party wil aanbied, lê waarskynlik voor.

Die eerste middeltermynverkiesing in ’n nuwe president se termyn hou gewoonlik groot voordeel vir die opposisie in. Indien die Republikeine rondom ’n gedeelde visie kan verenig kan hulle in 2022, wanneer Demokrate moeilike setels in die Amerikaanse kongres gaan moet verdedig, weer ’n oorwinning behaal wat dit vir Biden moeilik gaan maak om in die tweede helfte van sy eerste termyn belangrike beleid deurgevoer te kry.

Intussen is daar min rede om te glo dat Biden Amerikaners agter hom gaan verenig. Met ’n sterk mandaat vir Demokrate ná groot oorwinnings, ook in die kongres en in verskeie deelstate, gaan dit nie nou die Demokrate se eerste prioriteit wees nie. Die party loop egter die gevaar om deur radikale linkse beleidsveranderinge weer genoeg kiesers te vervreem sodat die Republikeine beheer oor die kongres in 2022 kan oorneem.

Vanjaar se verkiesing is verby, maar die stryd om beheer van die VSA is nog lank nie verby nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Joe Biden en die Demokrate beskuldig Trump gedurig daarvan dat hy teen immigrasie is. So nou dat Biden definitief president gaan word, hoop ek dat hy Amerika se grense sommer WYD sal oopmaak sodat almal wat soontoe wil gaan, ek ook, sommer net daar kan instap sonder ‘n gesukkel. As die Demokrate hulle mooi liberale “holier than though houding” oor menseregte ten volle uitleef, behoort hulle in elk geval met skok te reageer oor hoe wit mense in SA behandel word. Onthou net, selfs al regeer die liberale Demokrate ook Amerika, is dit steeds ‘n land SONDER: Beurtkrag Swak vuil… Lees meer »

Thom

Die wêreld is ‘n beter plek sonder psigopate aan die hoof van regerings . Dankie tog !

JM

Jaco, ek stem ten volle met jou saam!

Trotse Boervrou
twaalfboor

Hou dop hoe vou die “demokraat” onder druk. Hy te lig in die broek. VSA sal gou hulle fout agterkom. Biden is maar net nog ń “puppet on a string” soos Obama was.