Biden se oorwinning bevestig ná drama by Kongresgebou

Mike Pence, visepresident van die VSA, het die 306 kieskollegestemme ten gunste van Biden teenoor die 232 stemme ten gunste van Trump bekragtig. (Foto: J. Scott Applewhite – Pool/Getty Images/AFP)

Die Amerikaanse kongres het Joe Biden se oorwinning in die presidentsverkiesing bevestig.

Biden sal op 20 Januarie as die 46ste president van Amerika ingehuldig word.

Mike Pence, visepresident van die VSA, het die 306 kieskollegestemme ten gunste van Biden teenoor die 232 stemme ten gunste van die uittredende president Donald Trump bekragtig.

Trump het intussen gesê daar sal ’n “ordelike oorgang” na Biden se presidentskap wees.

“Alhoewel ek glad nie saamstem met die uitslag van die verkiesing nie, sal daar op 20 Januarie ’n ordelike oorgang wees,” het Trump in ’n verklaring gesê enkele minute nadat Biden se oorwinning bevestig is.

“Alhoewel dit die einde is van die wonderlikste eerste termyn in die presidensiële geskiedenis, is dit maar net die begin van ons stryd ‘to Make America Great Again’,” het Trump geëindig met die slagspreuk van sy verkiesingsveldtog in 2016.

(Foto: Samuel Corum/Getty Images/AFP)

Biden se oorwinning volg kort nadat honderde Trump-ondersteuners Woensdag die Kongresgebou (Capitol) in Washington D.C. bestorm het.

Maroela Media het vroeër berig lede van die huis van verteenwoordigers en die senaat is deur polisiebeamptes uit die senaatsaal begelei nadat betogers deur die deure van die gebou gebars, vensters gebreek en tot in die senaatsaal beweeg het.

Traangas is gebruik nadat die polisie en betogers slaags geraak het. Minstens 14 polisiebeamptes is beseer terwyl meer as 50 betogers reeds in hegtenis geneem is. Die Nasionale Wag is ook ontplooi om die onluste te probeer bedwing wat vir langer as vier uur voortgeduur het. ’n Vrou is op die kongresterrein geskiet en gewond en het later aan haar beserings beswyk.

Die vrou is intussen as Ashli Babbitt van San Diego geïdentifiseer. Babbitt was glo ’n vurige Trump-ondersteuner wat voorheen in die Amerikaanse lugmag gedien het.

Volgens die polisie is nog drie mense dood weens ongespesifiseerde “mediese noodgevalle”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.