Biden sê Poetin het besluit om Oekraïne binne te val

Die Amerikaanse president Joe Biden en pres. Wladimir Poetin van Rusland (Foto’s: MANDEL NGAN en Mikhail Metzel/various sources/AFP)

Pres. Joe Biden het Vrydag gesê hy is “oortuig” dat Wladimir Poeten besluit het om Oekraïne binne die volgende week binne te val. Indien dit gebeur, sal Westerse sanksies Rusland in ʼn “verstoteling” verander, aldus ʼn Amerikaanse beampte.

“In hierdie stadium is ek oortuig hy het die besluit gemaak,” het Biden in ʼn regstreekse onderhoud by die Withuis gesê.

Volgens Biden kan die aanval binne die volgende week of dae plaasvind en teikens sal die hoofstad Kiëf, “ʼn stad van 2,8 miljoen onskuldige mense” insluit.

Die Amerikaanse leier hou vol “dit is nie te laat om te de-eskaleer en terug te keer na die onderhandelingstafel nie”. Hy waarsku dat as die aanval plaasvind, sal die Russiese president “die deur toegeslaan het op diplomasie”.

Die Kremlin hou vol hy het geen planne om sy buurland aan te val nie. Rusland is ontstoke omdat Oekraïne langtermyn integrasie soek met NAVO en die Europese Unie.

Die VSA sê egter met ʼn geraamde 149 000 Russiese troepe op Oekraïne se grens, en soveel as 190 000 as Russies-ondersteunde magte in die ooste ingesluit word, is dit net ʼn kwessie van wanneer.

Rusland se ministerie van verdediging het boonop intussen aangekondig dat Poetin Saterdag self geskeduleerde oefeninge van kernkrag-missiele sal oorsien.

Sporadiese botsings in die ooste van Oekraïne lei ook tot kommer.

ʼn AFP-verslaggewer naby die front tussen Oekraïense magte en die pro-Russiese gebied in Lugansk het ontploffings gehoor en beskadigde siviele geboue aan Kiëf se kant van die lyn opgemerk.

Daar is vrese dat ʼn vonk – wat volgens Washington moontlik ʼn doelbewuste “vals vlag”-voorval kan wees deur Rusland, moontlik al is wat nodig is om die grootste militêre konfrontasie in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog te begin.

ʼn Beampte van die Amerikaanse weermag het gesê meer as 40% van die troepe rondom Oekraïene is nou gereed om aan te val.

Biden het Vrydag met mede-NAVO-bondgenote gesels om planne te bevestig vir Westerse ekonomiese sanksies teen Rusland indien sy troepe Oekraïne sou aanval.

Volgens ʼn senior beampte sal die sanksies ʼn verwoestende impak hê.

“As Rusland Oekraïne binneval, sal die land ʼn verstoteling word vir die internasionale gemeenskap,” het Daleep Singh, ʼn Amerikaanse nasionale sekuriteitsraadgewer vir internasionale ekonomieë, aan verslaggewers gesê. “Die land sal geïsoleer word van internasionale finansiële markte en ontneem word van tegnologiese insette.”

In Donetsk en Lugansk het leiers, wat Moskou ondersteun, egter gesê Rusland is nie die aggressor nie. Kiëf word daarvan beskuldig dat die stad sy eie aanval in gedagte het om die oostelike gebiede terug te vat. Hulle voer aan die regering se magte probeer sabotasie-missies. Inwoners is aangesê om te ontruim.

Antony Blinken, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, beskuldig egter die Kremlin van ʼn propaganda-veldtog om ʼn verskoning te kry om oorlog te maak.

“Wat die afgelope 24 – 48 uur plaasgevind het, is deel van ʼn scenario wat reeds in plek is om valse uittarting te skep, en om dan op die uittarting te reageer en uiteindelik met aggressie teen Oekraïne op te tree,” het Blinken aan die München-konferensie gesê. Die jaarlikse München-konferensie fokus vanjaar op toenemende vrese dat Rusland Oekraïne gaan binneval. Rusland woon nie vanjaar die konferensie by nie.

Oekraïne se minister van buitelandse sake sê “vals inligting van Rusland” oor ʼn vermeende aanval deur Oekraïne verhoog oorlog-koors.

Biden het Oekraïne se weermag geloof dat hulle “selfbeheersing” en “uitstende oordeel” toegepas het en sê bewerings dat dié land aggressief optree, “gaan alle verstand te bowe”.

Kleuterskool aangeval

ʼn Kleuterskool in Stanytsia, Luhanka in Oekraïne is in puin gelê ná ʼn kanonkoeël dit Donderdag getref het (17 Februarie 2022) (Foto: Aris Messinis/AFP)

Oekraïne sê Russiese magte het ʼn skietstilstand 53 keer oortree tussen middernag en Vrydag om 17:00.

Twintig kinders en 18 volwassenes by ʼn kleuterskool in Stanytsia Luhanska het ʼn aanval oorleef toe ʼn kanonkoeël die gebou Donderdag getref het. Niemand is beseer nie.

Rusland sê hy sal nie van Oekraïne wegtrek tensy Westerse lande onderneem om nooit Oekraïne in NAVO toe te laat nie en om Amerikaanse magte uit die ooste van Europa te onttrek. Dit is in effek ʼn nuwe weergawe van die kontinent se Koue Oorlog-era se invloedsfeer.

Die konflik tussen die swaar gewapende pro-Russiese rebelle en Oekraïense magte in die land se ooste duur al agt jaar voort. Meer as 14 000 mense is al dood en meer as 1,5 miljoen moes hul huise ontruim.

Intussen het die Britse eerste minister Boris Johnson Vrydag gesê “daar is nog ʼn kans om onnodige bloedvergieting te vermy”. “Dit sal egter ʼn oorweldigende vertoon van Westerse solidariteit verg – meer as enigiets wat ons vantevore gesien het,” het Johnson in ʼn verklaring gesê voor hy die München-konferensie bygewoon het.

“Bondgenote moet uit een mond praat om vir pres. Poetin te benadruk watter duur prys hy gaan betaal vir enige verdere Russiese inval op Oekraïne. Diplomasie kan steeds seëvier.”

Oekraïne se president, Wladimir Zelenski, sal na verwagting Saterdag met die Amerikaanse adjunkpresident Kamala Harris vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.