Biden: ‘Slagter Poetin kan nie aan bewind bly’

Brandbestryders spook om ‘n brand te blus nadat ’n brandstofdepot in Lwif aangeval is. (Foto: AFP)

Die Amerikaanse president Joe Biden het nou na sy Russiese eweknie Wladimir Poetin as ’n “slagter” verwys wat “nie aan bewind kan bly nie”.

“Moenie eers daaraan dink om op een enkele duim van Navo se gebied te beweeg nie,” was Biden se waarskuwing aan Poetin vanuit Pole waar hy vroeër met Oekraïense ministers ontmoet het.

Die Withuis was egter vinnig om meer duidelikheid oor Biden se opmerkings te verskaf en het daarop gewys dat die Amerikaanse leier nie “regimeverandering” in Rusland soek nie, maar verwys na Poetin se invloed op buurlande.

Twee Russiese missiele het intussen ’n brandstofdepot in Lwif in die weste van Oekraïne getref. Dié stad is sowat 70 kilometer van die Poolse grens geleë en het tot dusver gevegte vrygespring.

Minstens vyf mense is egter nou gewond nadat twee missiele sowat ’n uur uit mekaar getref het, het streekgoewerneur Maksim Kozitski gesê.

“Die aggressor wil met dié aanvalle hallo sê vir president Biden wat tans in Pole is,” het die burgemeester Andriy Sadovy gesê.

Pres. Joe Biden aan die woord in Pole. (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

Die Oekraïense presidensiële assistent Andriy Yermak het op sy beurt gesê die aanvalle was ’n poging om “Oekraïners en diplomate van demokratiese lande wat in die stad is te intimideer”.

Die Oekraïense president Wolodimir Zelenski het intussen wéér ’n beroep op sy bondgenote in die Weste gedoen om Oekraïne van meer wapens en ook vegvliegtuie te voorsien.

“Ons het meer ammunisie nodig. Ons het dit nodig om nie net Oekraïne te beskerm nie, maar ander Oos-Europese lande wat Rusland gedreig het om binne te val.

“Wat doen Navo?” wil Zelenski nou weet. “Word dit deur Rusland bestuur? Waarvoor wag hulle? Dit is al 31 dae. Ons vra net 1% van wat Navo het, niks meer nie.”

Meer as 3,7 miljoen mense, van wie 90% vroue en kinders, het nou reeds uit Oekraïne gevlug sedert Russiese magte dié land ’n maand gelede binnegeval het.

Die VN se vlugtelingagentskap, UNHCR, sê 3 772 599 Oekraïners het in dié stadium uit die land gevlug. Dit is reeds 46 793 meer sedert die vorige dag se getal.

Rookwolke kan gesien word ná ‘n aanval op Lwif. (Foto: Aleksey Filippov / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

A ·

Ek giggle elke keer wanneer ek Wladimir Poetin sien.

Waar is sy eweknie, Jhou Baaiden?

Nie Verbaas ·

Ek giggel saam maar jy spel naam verkeerd. Dit is Jou Baaiden. Zelensky moet dan ook Zelenskie wees.

Jean ·

Eerste keer dat Biden iets op sy eie goed sê en dan kom di withuis met ‘n ander verduideliking

Twallie ·

Seker omdat hy weg beweeg het van wat hy beveel was om te sê deur die wat regtig die VSA se toutjies trek.

Nie Verbaas ·

En dan verdwaal hy buite die Withuis ook nog en vertel van die Iranians en nie Ukrainians.

Thom ·

President Biden is natuurlik reg ___ n versteurde mag nie aan die hoof van Rusland staan nie .

Anna-marie ·

Amerika was die opstokers van die oorlog. Victoria Nuland en haar vriendin Hillary Clinton, Blinken, Kerry, S0r0s sit agter dit. Die hele doel daar agter is om Rusland by te kom. Deel van hulle Nuwe Werel Orde plan. Hulle voel NIKS vir die mense va Oekraiene nie.

wildtuin ·

Dis nie net Rusland nie, maar ook die oom se land het al verkeerde dinge gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.