Bielie van ‘n diamant behaal rekordprys

Hong Kong diamond 295‘n Wit diamant, so groot soos ‘n klein eier, is Maandagaand by ‘n veiling in Hong Kong vir $30.6 miljoen (ongeveer R306 miljoen) verkoop.

Twee persone het telefonies vir dié edelgesteente van 118 karaat gebie. Die veiling vir dié diamant uit Afrika het sowat ses minute lank geduur. Welgestelde versamelaars word twee keer per jaar na Sotheby-afslaers se juwele-veiling in China gelok.

Die “foutlose” ovaalvormige diamant is in 2011 gemyn en gesny. Sotheby’s wil egter nie die land van oorsprong bekend maak nie, aangesien die verkoper glo anoniem wil bly. Die enigste inligting wat verskaf is, is dat dit uit suidelike Afrika kom.

‘n Ronde, blou diamant van 7.6 karaat is by dieselfde veiling in Hong Kong vir $16.1 miljoen (sowat R160 miljoen) verkoop.

Die vorige rekord vir ‘n wit diamant is in Mei vanjaar opgestel by Sotheby-afslaers se veiling by Christie’s in Genève toe dit vir $26.7 miljoen (sowat R267 miljoen) verkoop is.

Die wêreldrekordprys vir ‘n edelgesteente by ‘n veiling is in 2010 opgestel toe Laurence Graff, ‘n juwelier van Londen, $46 miljoen (sowat R460 miljoen) vir ‘n pienk diamant van 24.8 karaat opgedok het.

Sotheby’s sal na verwagting in November ‘n pienk diamant van 59.60 karaat teen ‘n geraamde $60 miljoen (sowat R600 miljoen) in Genève verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.