Bielie van ‘n diamant te duur vir kopers

Lesedi la Rona, die 1 111 karaat diamant wat in November 2015 in Botswana ontdek is Foto: Lucara Diamond-korporasie

Lesedi la Rona, die 1 111 karaat diamant wat in November 2015 in Botswana ontdek is Foto: Lucara Diamond-korporasie

Die grootste ongeslypte diamant wat in meer as ʼn eeu gevind is, het nie Woensdag by ʼn Sotheby’s-veiling verkoop nie.

William Lamb, president van Lucara Diamond Corp, het bevestig die maatskappy behou die 1 111 karaat tipe IIa, beter bekend as die Lesedi la Rona, aangesien die reserweprys nie by die veiling in Londen behaal is nie.

Bieërs wou nie meer as $61 miljoen (ongeveer R935 miljoen) vir die diamant, ongeveer so groot soos ‘n tennisbal, aanbied nie.

Sotheby’s het beraam die diamant, wat verlede jaar by Lucara se myn in Botswana uitgehaal is, sal vir meer as $70 miljoen verkoop word.

“Dit is ʼn teleurstelling dat die diamant nie verkoop het nie, maar dit verander niks vir Lucara as ʼn maatskappy nie,” het Lamb bygevoeg.

Die maatskappy het nog nie verdere planne vir die steen nie. Dit is moontlik dat die diamant aan museums uitgehuur gaan word om sy blootstelling te verhoog en die publiek in te lig oor diamante.

“Lesedi la Rona” beteken “ons lig” in Tswana, die taal wat in Botswana gepraat word. Dit is die tweede grootste edelsteengehalte diamant wat nog ooit uitgehaal is. Die grootste bly die Cullinan-diamant, ʼn 3 106 karaat steen wat in 1905 in Suid-Afrika gemyn is.

Maroela Media het vroeër berig Lucara het verlede maand ʼn ongeslypte diamant van 812,77 karaat, “The Constellation”, vir $63,1 miljoen verkoop. ʼn Maatskappy in Dubai was die koper.

Lees alle vorige berigte oor Lucara en die Lesedi la Rona op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Petra ·

Miskien moet hulle eerder juwele maak en dit dan verkoop. Om so groot diamant te slyp is iets vreesliks,want hy kan kraak en bars verstaan ek.

Josua Keys ·

Dit is aardig wat mense aan iets koppel wat jou nie kan voed of met huisvesting help nie, hoeveel honger mense kan met die geld gevoed word, hospitale op gegradeer word, mediese sorg vir pensioenarisse en so kan ek aangaan, ek verstaan dat duisende ringetjies ens uit die diamant gemaak kan word maar wat ek hierin bedoel is dat dit net n dekselse klip is waaraan mense waarde koppel ja dit is ook baie hard en word vir baie ander dinge ook gebruik maar as jy mooi daaraan dink is dit eintlik niks nie net die waarde wat mense daaraan koppel gee dit waarde. As jy bevoorbeeld ‘n ystererts klip vat het dit baie meer waarde as ‘n diamant, geboue en strukture word met staal versterk wat mense huisves, vervoer, rond vlieg ens maar daardie waarde is nie eens n werd om hier genoem te word nie.

Wat-ek-lees ·

Wat ‘n gulde geleentheid het vir my verlore gegaan want ek het nie geweet van die veiling !!
Ai jai jai . . . !

Kiepie ·

Ongelukkig is my pay cheque vir die maand reeds op. Miskien volgende maand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.