Bill Cosby hoor sy lot

Bill Cosby. Foto: AP Photo/Matt Slocum

Ná dekades van gerugte, regsgedinge en ondersoeke is die Amerikaanse komediant en akteur Bill Cosby Donderdag skuldig bevind op drie aanklagte van seksuele aanranding.

Die 80-jarige Cosby kan nou moontlik vir die res van sy lewe in die tronk wees, aangesien hy ’n vonnis van tot 10 jaar tronkstraf in die gesig staar.

Die jurie, bestaande uit sewe mans en vyf vroue, het 14 uur lank beraadslaag voor hulle Cosby, wat die rol van ’n liefdevolle pa in die TV-treffer The Cosby Show vertolk het, skuldig bevind het.

Cosby is skuldig bevind dat hy 14 jaar gelede vir Andrea Constand, nou 45, bedwelm en gemolesteer het by sy huis in Philadelphia. Cosby het aangevoer dat die dade met toestemming geskied het.

Dit was die enigste saak wat dit tot in die hof gemaak het, al het meer as 50 vroue Cosby van molestering beskuldig. Lili Bernard, wat beweer het Cosby het haar seksueel aangerand voor hy vir haar ’n rol in The Cosby Show in 1992 aangebied het, het erg emosioneel geraak in die hofsaal.

Cosby het reguit voor hom uitgestaar terwyl die beslissing bekend gemaak is. Hy het egter kort hierna uitgevaar teen die distriksprokureur wat geëis het dat Cosby onmiddellik tronk toe gestuur moet word.

Regter Steven O’Neill het egter beslis Cosby se borgtog van $1 miljoen kan verleng word tot hy gevonnis word. Hy mag wel nie Montgomery County, waar sy huis is, verlaat nie. Daar is nie ’n datum bekend gemaak van wanneer Cosby gevonnis sal word nie.

Bill Cosby. Foto: AP Photo/Matt Slocum

Cosby het buite die hof vir die skare gewaai voor hy in ’n motor geklim en sonder om ’n woord te sê die hof verlaat het. Sy regsverteenwoordiger het egter gesê “die geveg is nog nie verby nie” en dat hulle teen die uitspraak sal appelleer.

’n Ander jurie het minder as ’n jaar gelede ’n dooiepunt bereik in die eerste verhoor van Cosby op dieselfde aanklagte. Die verhoor is nietig verklaar, maar die staat het besluit om Cosby weer aan te kla.

Kort ná die gebeure het ’n stortvloed beskuldigings van seksuele aanranding en teistering teen invloedryke mans gelei tot die #MeToo- en #TimesUp-bewegings. Vroue is aangespoor om hul eie ervarings van molestering bekend te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nienaber ·

Hy was mos n knaap wat jare gelede Anti Sa bordjie op sy sitcoms ten toon gestel het.Die waarheid kom altyd uit.Kry vir jou en ek hoop jy sit in die tronk tot aan die einde van jou dae.

So val die bekendes ·

Cosby Show was een van my gunstelinge as kind. Hy was so snaaks en n “cool oom”
Jammer dat dir ware hy nie maar by sy sitcom hy kon leer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.