Bill Cosby se skuldigbevinding omgekeer

Bill Cosby tydens die voorverhoor op 7 Julie 2016 in Norristown, Philadelphia (Foto: AP Photo/Matt Rourke)

Bill Cosby, die Amerikaanse komediant, is Woensdag uit die tronk vrygelaat nadat die hooggeregshof in die Amerikaanse deelstaat Pennsylvania sy skuldigbevinding aan seksuele aanranding omgekeer het.

Cosby (83) is in 2018 drie tot tien jaar tronkstraf opgelê vir die seksuele aanranding van Andrea Constand sowat 17 jaar gelede.

Cosby het meer as twee jaar van sy vonnis uitgedien voordat regters toegegee het dat Cosby nie ’n regverdige verhoor gehad het nie.

Die betrokke regters sê in ’n beslissing van 79 bladsye dat ʼn nie-vervolgingsooreenkoms tussen ʼn voormalige distriksadvokaat en Cosby oor getuienis wat hy in ʼn siviele saak gelewer het, inderwaarheid beteken dat die akteur nooit aangekla moes geword nie.

“Cosby se skuldigbevinding en vonnis word omgekeer en hy word vrygelaat,” het die regters bevind.

ʼn Woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste in Pennsylvania het intussen gesê Cosby het Woensdag net voor 14:30 (Amerikaanse tyd) uit die CI Phoenix, ʼn staatstronk sowat 56 km noordwes van Philadelphia, na vryheid gestap.

Cosby is in April 2018 skuldig bevind op drie aanklagte van seksuele aanranding nadat hy Constand in 2004 by sy huis in Philadelphia bedwelm en gemolesteer het.

Die akteur het in Augustus verlede jaar vir die tweede keer appèl teen sy skuldigbevinding aangeteken. Die verdediging het aangevoer dit is “fundamenteel onregverdig” dat die getuienis wat Cosby in ʼn siviele saak gelewer het oor sy gebruik van kalmeermiddels en seksuele gedrag in die 1970’s tydens sy verhoor in die hof aangehoor is.

Cosby het in die getuienis erken dat hy Quaaludes, ʼn nou verbode partytjiedwelm, aan vroue gegee het om seks met hulle te hê.

Volgens die verdediging was Cosby van mening dat dié getuienis nie gebruik sou kon word om hom strafregtelik te vervolg nie. Die getuienis het egter later ʼn belangrike deel van sy verhoor gevorm.

Die drie regters het nou toegegee dat die nie-vervolgingsooreenkoms beteken dat hy nie aangekla moes word nie.

“Enige toekomstige vervolging op hierdie spesifieke aanklagte moet verbied word,” lui die jongste beslissing. “Ons betwis nie dat hierdie regstelling ernstig en skaars is nie. Maar dit is inderdaad noodsaaklik.”

Maroela Media het vroeër berig sedert Constand in 2005 vir die eerste keer na die owerhede is om aan te meld dat Cosby haar seksueel molesteer het, het meer as 60 vroue Cosby van seksuele aanranding beskuldig.

Geen van dié bewerings het egter tot strafregtelike aanklagte gelei nie.

Cosby was die eerste bekende om aan seksuele aanranding te midde van die #MeToo-beweging skuldig bevind te word.

Ondersteuners van dié beweging het intussen hul woede oor sy vrylating uitgespreek.

Die advokaat Lisa Bloom wat drie van Cosby se beskuldigdes verteenwoordig, sê sy en haar kliënte is “gewalg dat hy vandag ʼn vry man is”.

Cosby was tydens sy akteursloopbaan onder meer die ster van die bekende Amerikaanse sitkom The Cosby Show.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Boerkind ·

Ou skandaal! Maar sy oordeel is gevel en hy sal binnekort voor die Regter staan.

Natasha ·

Light travels faster than sound. This is why some people appear bright until they speak

Belinda ·

Waar n rokie is, is n vuurtjie. maak nie saak wat nie, daar is meer aan hierdie aantuigings as wat hy voorgee….

Erika ·

All vind die Amerikaanse regstelsel hom “onskuldig”…Gaan hy voor God staan…Hy is 83 -Hy het nie baie tyd oor nie..

ES ·

Wat ‘n verregaande hofbebel… hy mag nou nie van ‘n soortgelyke misdryf aangekla word nie – nadat hy meer as 60 ander vroue se lewens verwoes het.

Die wiel draai, en as hy draai dan spin hy.

Pieter J ·

Hierdie was ń tegniese fout wat deur twee aanlaers gemaak is en die hof kon dus nie tot ń ander bevinding kom nie.

JohanR ·

Jacob Zuma is 80, en dan is daar daai wat nou wil skree dat hy te oud is om tronk toe te gaan en hy moet nou met sy pantoffels en japon daar voor die kaggel vuur in Nkandla gaan ontspan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.