Bill en Melinda amptelik geskei

Bill en Melinda Gates (Foto: Scott Olson/Getty Images North America/AFP)

Die Amerikaanse miljardêr en filantroop Bill Gates (65) en sy vrou, Melinda (56), is amptelik geskei. Die egpaar was 27 jaar getroud en het drie volwasse kinders.

ʼn Regter het die egskeiding Maandag in King County in die Amerikaanse deelstaat Washington afgeteken. Die Gates-egpaar het in Mei vanjaar aangekondig dat hulle paaie gaan skei.

Luidens die finale egskeidingsbevel wat deur die hof ingedien is, het die twee ooreengekom om ʼn “skeidingskontrak” te teken wat nie by die egskeidingsverrigtinge ingesluit was nie. Die skeidingskontrak behels hoe hulle eiendom, skuld en regskoste gaan verdeel.

Die hof het geen bevel oor onderhoud of toesig vir die Gates-kinders gemaak nie aangesien hulle ouer as 18 is.

Melinda het  egskeidingsprokureurs genader nadat dit in 2019 aan die lig gekom het dat Bill bande gehad het met die seksoortreder Jeffrey Epstein, berig die Wall Street Journal.

Bill en Melinda het op 1 Januarie 1994 in ʼn geheime seremonie in Lanai, Hawaii, trou aan mekaar beloof, met groot name in die vermaakbedryf soos Willie Nelson en Alice Cooper wat op die troue gesing het.

In die weke wat gevolg het nadat die egskeiding in Mei aangekondig is, is Bill in die media as ʼn boelie uitgekryt wat verskeie seksuele verhoudings gehad het.

Bill en Melinda sal albei aanbly as medevoorsitters van die Bill & Melinda Gates-stigting, ʼn niewinsgewende organisasie wat fokus op die wêreldwye bestryding van armoede, siektes en ongelykheid.

Volgens Mark Suzman, uitvoerende hoof van die Gates-stigting, kan Melinda ná twee jaar bedank sou sy en Bill nie daarin slaag om saam te kan werk nie.

Sedert die egskeiding in Mei aangekondig is, is meer as $3 miljard se aandele, wat deur Bill se Cascade Investments gehou word, na Melinda se naam oorgedra.

Volgens die Bloomberg-miljardêrsindeks is dit ʼn fraksie van hulle fortuin van sowat $146 miljard. Dit sal egter moontlik nooit bekend wees presies hoe die egpaar se privaat bates opgedeel gaan word nie.

Volgens die indeks is Gates nou meer werd as $150 miljard.

Bronne: Business Insider, Fortune.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank John

Ek wonder hoekom hulle nie sê nie. Steek hulle iets weg?

Blomme

Toe maak geld wat stom is nie reg dit wat krom is nie!

Hardekwas

Ek wonder wat het gates saam met die pedofiel epstein gedoen? Geen wonder sy vrou het hom geskei nie.

annie

… en ou Bill glo vas hy is die vangs der eeue… Hy sal nou nooit weet of die een wat nou met hom trou, trou oor sy good looks of oor sy beurse nie. Maar as hy eerlik is voor die spieël sou dalk tog kon raai.

Dirk Mostert

Filantroop? Gmf.