Biografie oor ‘visionêre’ Musk nou op die rakke

Elon Musk. (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

Elon Musk is ongetwyfeld een van die mees fassinerende en omstrede innoveerders van ons era – ʼn visionêre baanbreker wat gehelp het om die wêreld na ʼn era van elektroniese voertuie, private ruimteontdekking en kunsmatige intelligensie te lei.

ʼn Splinternuwe biografie deur Walter Isaacson, wat Dinsdag wêreldwyd op winkelrakke verskyn het, gee ʼn intieme blik op die lewe van dié Suid-Afrikaans gebore sakeman, miljardêr en filantroop. Die boek word deur Simon & Schuster-uitgewers uitgegee.

Die nuus dat Musk in die geheim ʼn elfde pienkvoet, Techno Mechanicus, verwelkom het, word onder meer in die biografie bevestig. Dit is Musk se derde kind saam met die 35-jarige sangeres, Grimes.

Die boek was van Dinsdag amptelik beskikbaar, hoewel The New York Times reeds verlede week ʼn boekverslag daaroor gepubliseer het. Dit is juis in dié verslag dat die nuus oor Musk se jongste spruit bekendgemaak word.

Isaacson het ter navorsing van die biografie sowat twee jaar lank baie tyd saam met die 52-jarige Musk deurgebring. Hy het onder meer saam met Musk vergaderings bygewoon, fabrieke deurgestap en urelange onderhoude gevoer met familielede, vriende en medewerkers.

Die resultaat is ʼn onthullende verhaal gevul met ongelooflike stories van oorwinnings en beroerings.

As kind in Suid-Afrika is Musk onophoudelik geboelie. Op ʼn dag het ʼn groep kinders hom op trappe neergegooi en hom geskop totdat sy gesig ʼn opgeswelde bal was. Hy is daarna vir ʼn week lank in die hospitaal behandel, maar die fisieke littekens was klein in vergelyking met die emosionele letsels wat deur sy eie pa, ʼn ingenieur en charismatiese fantas op hom gelaat het.

Sy pa se impak op sy psige sou lank draal en hy het ʼn hoë toleransie vir risiko en ʼn hunkering na drama ontwikkel.

“Ek moet my ingesteldheid wegskuif van om in krisismodus te wees, wat dit nou al vir ongeveer 14 jaar, of waarskynlik die grootste deel van my lewe is,” het Musk in 2022 gesê.

Meer oor die outeur:

Walter Isaacson het voorheen topverkoper-biografieë van bekendes soos Jennifer Doudna, Leonardo da Vinci, Steve Jobs, Benjamin Franklin en Albert Einstein geskryf.

Hy is ʼn professor in geskiedenis aan die Tulane Universiteit in New Orleans, Louisiana. Hy was die uitvoerende hoof van die Aspen Institute, voorsitter van CNN en redakteur van Time. Hy is ook vroeër vanjaar met ʼn National Humanities-medalje vereer.

Elon Musk
Uitgewer: Simon & Schuster
Prys: R590

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hussin ·

As ek die artikel so lees twyfel ek baie sterk daaraan dat hy gedink het die is die goeie ou dae.

Althes ·

Ek wonder of hy die moeders van sy kinders se IK’s getoets het voordat hy kinders verwerf het. Die rede waarom ek wonder is dat hy sulke vreemde name kies vir sy kinders. Nietemin hy is ñ hoogs intelligente en suksesvolle sakeman.

Stephen ·

Die feit dat die skrywer, Walter Isaacson voorsitter van CNN was kan beteken dat baie van die feite nie die waarheid is nie. Sal die boek n mis gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.