Biologiese wonder: Termiete bou al 4 000 jaar aan 200 miljoen grondhope

Só lyk die grondhope van 4000 jaar oud wat deur termiete gemaak is, die totale area wat dit beslaan is so groot soos Brittanje. Foto: Stephen Martin/Current Biology

ʼn Astronomiese getal van 200 miljoen grondhope ­ – wat ʼn area so groot soos Brittanje beslaan ­– word al die afgelope 4 000 jaar deur termiete gemaak.

Dié grondhope wat in netjiese rye gebou is, is nie neste nie, maar die resultaat van die termiete se bestendige werk om ʼn netwerk van ondergrondse tonnels te bou wat onderling verbind is.

Dié werk is Maandagaand in die vakjoernaal Current Biology gepubliseer. Prof. Stephen Martin, hoof van sosiale entomologie aan die Universiteit van Salford in Brittanje, het per e-pos gesê die termiete bou steeds ná duisende jare nog nuwe tonnels.

Die grondhope is in die noordooste van Brasilië. Dit was vroeër in die halfdorre landskap met sy bladwisselende plante en doringruigtes versteek gewees. Die afgelope jare het dit meer sigbaar geword toe groot gebiede skoongemaak is vir weiding. Die hele area vol grondhope beslaan 230 000 km².

Die termiete se bedrywighede ná duisende jare het al soveel grond verskuif, dit is gelyk aan 4 000 piramiede van antieke Egipte. Die grondhope, in die vorm van keëls, is tussen 2,5 m en 4 m hoog en sowat 9 m wyd. Die termiete verskuif stadig maar seker die grond om by dooie blare uit te kom.

Die grondhope is byna net so oud soos die piramiede en dit is vandag byna onmoontlik om nog ʼn biologiese wonder te vind wat só oud is, met die inwoners wat nog leef, het Martin gesê.

‘n Navorser staan by een van die 200 miljoen grondhope wat deur termiete gemaak is. Dié hope is 4 000 jaar oud en saam die mees uitgebreide struktuur wat nog deur ‘n enkele insekspesie gemaak is. Foto: Roy Funch

Die tegniek wat gebruik is om die ouderdom te bepaal, is om diep in die betrokke monster enkele korrels grond met ʼn spesiale instrument te neem. Dit staan bekend as opties gestimuleerde luminessensie en kan baie akkuraat bepaal wanneer die grond die laaste keer aan lig blootgestel is.

Dit is die mees uitgebreide struktuur wat nog deur ʼn enkele insekspesie gemaak is, en die termietspesie (Syntermes dirus) leef steeds daar. In die kern is daar nog baie aktiwiteit en in een sodanige struktuur sal daar van honderde tot duisende termiete wees, sê Martin.

Die grondhope is sowat 20 m uiteen gemaak. Hoe hulle dit regkry om die grondhope in so ʼn unieke patroon te bou, is volgens Martin sodat hulle die tonnels onder die grond makliker met mekaar kan verbind.

Dit is byna soos ʼn feromoonkaart – ʼn chemiese stof wat die termiete afskei – wat die tyd wat hulle reis van een plek na die volgende in die kolonie verminder. Die termiete leef van blare en dié neem hulle af in die tonnels, wat onder die grond is. Die netwerk van tonnels stel hulle in staat om oor baie groot gebiede kos te kry, in ʼn omgewing wat redelik skaars daaraan is.

Daar is egter nog baie vrae, want ʼn koninginkamer is nog nooit gevind nie.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

De Villiers ·

Die aarde is 4 biljoen jaar oud. Die Magaliesberge bv. is 2.3 biljoen jaar oud, en die Greenbelt bergreeks by Baberton is 3.6 biljoen jaar oud.
Hierdie storie is geweldig interessant. My vraag hier is wat Brasilië hieromtrent gaan doen, want om ‘n area so groot soos Brittanje skoon te maak vir weiding, het ‘n baie negatiewe effek op die natuur. Boonop gaan dit ‘n negatiewe effek op hierdie ou lewensvorm hê. Mense vernietig alles, en dit net vir geldelike gewin. Op die einde gaan hulle die oorsaak wees vir hul eie ondergang.

Francois le Cochon ·

Doodreg De Villiers. En die heelal is 14 biljoen jaar oud. Eintlik ‘n tydsbegrip wat vir die mensdom onbegryplik is.

GM ·

Ongeag hoe oud dit is, kyk eerder na hoe ‘amazing’ die natuur is. Daar is so baie wat ons, as mens, nie weet nie. Kyk hoe kon NASA ‘n ‘giraffe suit’ maak deur te kyk na hoekom ‘n kameelperd nie omkap elke keer as die dier sy/haar kop laat sak nie. Die houtkapper, vlêrmuis, olifant, rob (die lys gaan aan), het ook al gesorg vir inspirasie as dit by tegnologiese uitvindsels kom. BBC Richard Hammond’s Miracles of Nature is ‘n baie opvoedkundige program vir dié wat sulke goed interessant vind.

callie ·

Dis geweldig interessant! Die oppervlakte wat so wydverspreid is is verstommend.

Lynne ·

Ongelooflik Interessant! Soos die Skepper self in sy Woord vir ons sê: “Luiaard gaan kyk na die mier…..”

Francois le Cochon ·

Hierie miere is in vir ‘n suprise. Kort voor lank gaan ‘n Suid Afrikaanse spesie meer as hierdie 200 miljoen “strukture” bou.

nico k ·

Ook interessant dat sekere termiete sulke reuse hope maak. Ek weet in Zambië en Malawi is ook sulke groot termietneste, maar nie so baie baie bymekaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.