Bitcoin-prys bereik rekordhoogte danksy Tesla

Argieffoto (Foto: CoinDesk)

Die elektroniese motorvervaardiger Tesla se onlangse belegging van $1,5 miljard (ongeveer R22 miljard) in bitcoin het dié kripto-geldeenheid se prys tot ’n rekordhoogte laat styg. Die motorvervaardiger sal ook bitcoin as ʼn betaalmiddel vir sy elektriese motors aanvaar.

Bitcoin het Maandag tot ʼn rekordhoogtepunt van $48 215,83 gestyg nadat dit bekend geword het dat Tesla $ 1,5 miljard in dié kripto-geldeenheid belê het.

Elon Musk, uitvoerende hoof van Tesla en die rykste mens ter wêreld, het die afgelope week sy steun aan kripto-geldeenhede op Twitter toegesê en kortliks sy biografie op dié platform slegs na “#bitcoin” verander.

“Ons het in Januarie 2021 ons beleggingsbeleid aangepas om ons meer buigsaamheid te bied om die opbrengs op ons kontant verder te diversifiseer en te maksimeer,” het Tesla ná die belegging gesê.

“As gevolg hiervan kan ons ʼn gedeelte van ons kontant belê in sekere alternatiewe reserwebates, insluitend digitale bates, goudbeursverhandelde fondse en ander bates soos in die toekoms gespesifiseer.”

Elon Musk. Foto: Odd ANDERSEN/AFP

Tesla sal ook “binnekort bitcoin as betaalmiddel vir ons produkte begin aanvaar”, het die maatskappy bygevoeg.

Fawad Razaqzada, ’n ontleder van ThinkMarkets, meen Tesla se onlangse belegging in bitcoin is waarskynlik een van die grootste ontwikkelings vir die kripto-geldeenheidbedryf.

“Tesla gaan ʼn belangrike rolspeler in die motorbedryf wees, en as hy bitcoin as betaalmiddel aanvaar, sal dit die digitale geldeenheid verdere legitimiteit gee.”

Paypal het in Oktober aangekondig dat hy verbruikers sal toelaat om transaksies in digitale geldeenhede te doen, terwyl die betalingsonderneming Square gesê het hy sal $ 50 miljoen (R735 miljoen) in bitcoin belê.

Die batebestuursreus BlackRock het net verlede maand aangekondig dat twee van sy fondse beleggings in bitcoin kan insluit.

Bitcoin, nou 12 jaar oud, het sedert Maart verlede jaar ’n vinnige styging beleef toe dit op $5 000 (sowat R73 500) gestaan het.

Neil Wilson, hoofmarkontleder van Markets.com, voorspel egter dat Tesla se aankondiging bitcoin tot meer as $50 000 (sowat R735 000) kan dryf danksy Musk se invloed.

Wilson sê egter Musk se skielike bevordering van bitcoin laat die vraag ontstaan ​​oor moontlike markmanipulasie, afhangende van die tydsberekening van Tesla se bitcoin-aankope, asook sy bevordering van die kripto-geldeenheid aanlyn.

“Dit kan konserwatiewe beleggers moontlik bekommerd maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Kom ek se jou, passop vir die Bitcoin en hoe slinks Tesla probeer om die n “Full currency” te maak. Die sal beteken almal gaan in die inkoop en dan sal almal gemeet kan word en beheer word, wnat alles is op een platvorm. _ Ek dink net verder, oor ek self in I.T is en soms moet mens mooi ook kyk. Gee my opinies as iemand wil. EK wil graag nog meer weet en of ek verkeerd is om so te dink.

Stof ·

My belegging in pampoenpitte het ‘n baie groter opbrengs as bitcoin gebring. Vyf pitte het my oor die twintig pampoene besorg. En dit, was nie virtuele pampoene nie. Dit het my geliefdes werklik gevoed.
Bitcoin ruik reeds heel van die begin af, al te veel na my sokkies…
Dalk moet ek my outobiografie maar “Stof en die pampoenrank” noem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.