Blackberry is terug

Die klassieke Blackberry-slimfone. (Foto: Wikipedia)

ʼn Splinternuwe Blackberry-slimfoon word later vanjaar bekend gestel.

OnwardMobility, die gelisensieerde vervaardiger van dié foon, het glo ʼn waglys vir dié nuwe produk uitgereik.

Blackberry en OnwardMobility het verlede jaar hul vennootskap aangekondig en het onderneem om ʼn nuwe 5G-slimfoon met ʼn fisieke sleutelbord bekend te stel. Dit sal deur Google se android-stelsel aangedryf word.

Dit kom nadat TCL Communications gesê het verkope van Blackberry-slimfone sal teen 31 Augustus verlede jaar gestaak word.

Mense wat by OnwardMobility se waglys aansluit sal genooi word om insette te lewer oor wat hulle graag in ʼn volgende Blackberry-toestel sal wil sien.

Buiten die fokus op produktiwiteit, veiligheid en die klassieke Blackberry-sleutelbord, is die maatskappye geheimsinnig oor die nuwe slimfoon, en geen foto’s van die slimfoon is tot dusver beskikbaar nie.

OnwardMobility het gesê die foon sal eers in die VSA en Europa uitgereik word. Die vervaardiging van die toestelle sal deur ʼn derde party in die vennootskap, FIH Mobile, ʼn filiaal van Foxconn, een van die grootste hardewarevervaardigers ter wêreld gedoen word.

Blackberry is drie jaar agtereenvolgend, van 2011 tot 2012, as die koelste selfoonhandelsmerk in Suid-Afrika aangewys, en BBM Messenger is in dié tyd as mense se gunsteling-app aangewys.

Blackberry se oorheersing in Suid-Afrika is aangedryf deur ʼn simbiose van drie komponente: BBM, die Blackberry Internet Service (BIS) en die bekostigbare Blackberry Curve 8520.

BIS het onbeperkte dataverbruik vir slegs R59 per maand toegelaat – ʼn gewilde aanbod onder Suid-Afrikaners wat gewoond is daaraan om tot soveel as R2 per megagreep op ʼn slag te betaal.

Bron: MyBroadband

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.