Bloedige hittegolf in VSA duur voort

Argieffoto

Die hittegolf wat tans in die weste van die VSA en Kanada heers, duur voort met rekordtemperature wat die afgelope naweek in sommige dele aangeteken is. Honderde mense het reeds weens die versengende hitte omgekom.

In Kanada het 50 nuwe veldbrande die afgelope twee dae weens die bloedige hitte uitgebreek. Die regering het nuwe noodmaatreëls aangekondig om verdere brande te voorkom, waaronder die beperking van treinverkeer.

Verskeie paaie en snelweë in dele van Kanada is gesluit omdat die regering die veldbrande as ’n groot risiko beskou. Talle dorpe het gebeurlikheidsplanne ingestel sodat hulle op kort kennisgewing ontruim kan word.

Die Kanadese regering het ondersoekers na die stad Lytton, 250 km noordoos van Vancouver, gestuur om te bepaal of ’n verbygaande trein moontlik die brand wat einde Junie daar uitgebreek het, veroorsaak het. Dié brand het omtrent die hele stad verwoes.

Honderde mense het reeds in Brits-Columbia gesterf en die aantal veldbrande het tot minstens 298 gestyg.

Rekordtemperature verwag

Kanadese weerkundiges het vir hierdie week temperature van tot 32 °C (90 °F) in gebiede in die weste van Kanada voorspel. Dié temperature is bo die normale temperature wat gewoonlik hier in die somer aangeteken word.

Volgens die nasionale weerdiens in die VSA het Las Vegas Saterdag ʼn rekordtemperatuur van 47 °C (117 °F) aangeteken. Dié temperatuur is een keer in 1942 en drie keer sedert 2005 in dié stad aangeteken.

Die weerdiens het voorspel dat dit na verwagting Sondag ’n paar grade koeler sou wees, maar Death Valley in Kalifornië het ’n bloedige temperatuur van 52 °C (126 °F) ervaar.

Voorspellers het waarskuwings teen verdere hitte vir die week uitgereik vir verskeie ander stede, waaronder Phoenix en San Jose.

Die warm weer van die naweek volg op ’n hittegolf wat einde Junie die westelike dele van die VSA en Kanada getref het.

Maroela Media het vroeër berig ’n man van Palm Springs in Kalifornië is gered nadat hy Donderdagmiddag in bloedige hitte van 42 °C (108 °F) gaan stap het en op ’n krans vasgekeer is. Dit volg ’n maand na Geoffrey-Martin Cyr in Palm Springs weens hitte-uitputting dood is toe hy meer as ’n uur lank buite langs die swembad vertoef het. Temperature van tot 48 °C (119 °F) is daardie dag aangemeld.

Minstens 134 mense is einde Junie skielik in die omgewing van Vancouver in Kanada dood terwyl dié gebied sy hoogste temperature nóg aangeteken het. Die oorgrote meerderheid van sterfgevalle hou verband met die hitte wat in dié streek beleef is. Temperature het in van die gebiede tot 49,5 °C gestyg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

melaney ·

Dis erg anderkant die groot waters. Mense gaan van die hitte dood! Hier in ons wintertyd maak our people hulle eie hitte. Die vure staan ooral hoog, net soos hulle gemoedere.

Dirk Mostert ·

Tipiese aardverwarming/klimaatsverandering propaganda. Sal nie verbaas wees as omgewingsaktiviste self die vuurhoutjies getrek het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.