Bloodhound-toetslopie om wêreldspoedrekord te verbeter

Bloodhound by Newquay in Engeland (26 Oktober 2017) Foto: Ben Birchall/PA via AP

Die Bloodhound- supersoniese motor, effektief ʼn vegvliegtuig op wiele, het vandeesweek sy eerste openbare toetslopie gehou om uiteindelik teen 1 000 mph (1 610 km/h) te ry.

Die blou-en-oranje ruimtevaartuigagtige motor het Donderdag, voor ʼn skare toeskouers, twee toetslopies gedoen op ʼn renbaan van 2.7 km lank. Die motor het 200 mph (320 km/h) in ongeveer nege sekondes gehaal.

Dit was die eerste openbare toetslopie van die motor, wat deur ʼn EJ200-stralerenjin van ʼn Eurofighter Typhoon-vegvliegtuig, aangevuur word.

Die wêreldrekordpoging sal binne die volgende paar jaar in die Noord-Kaap in Suid-Afrika plaasvind.

Andy Green, ʼn Britse lugmagvlieënier, sal in daardie stadium poog om sy vorige rekord 20 jaar gelede van 763 mph in die Bloodhound se voorganger, te verbeter.

Vegvlieënier Andy Green in die Bloodhound by Newquay in Engeland (26 Oktober 2017) Foto: Ben Birchall/PA via AP

“Ons is hier om te sê Bloodhound is aan die gang! En dis presies wat ons vandag kon bewys,” het Green ná die toetslopie in Newquay in die suidweste van Engeland gesê. “Die hantering en stabiliteit van die motor – ek kan nie ʼn fout vind met die motor nie. Dit werk briljant.”

Die Bloodhound-projek is in 2008 in Londen van stapel gestuur met die doel om ʼn motor te ontwerp wat 1 000 mph kan haal. Ongeveer £30 miljoen (byna R557 miljoen) is al in die projek belê danksy die ondersteuning van die publiek en borge, onder andere die Chinese motorgroep Geely en Rolls Royce.

Die uiteindelike koste sal na verwagting £60 miljoen beloop.

Indien die 13 meter lange motor sy doelwit van 1 000 mph kan haal, sal dit die lae hoogte spoed van vliegtuie van 994 mph verbysteek, aldus die Bloodhound-projek se webwerf. Teen 1 000 mph kan die motor meer as vier rugbyvelde elke sekonde oorsteek.

Lees alle vorige berigte oor die Bloodhound op Maroela Media.

-Reuters

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.