Bloomberg onttrek hom aan Demokrate se wedloop; gee steun aan Biden

Die miljardêr-sakeman Mike Bloomberg. (Foto: (Matias J. Ocner/Miami Herald via AP)

Die miljardêr Mike Bloomberg het hom onttrek aan die wedloop om die Demokrate se presidentskandidaat vir die Amerikaanse verkiesing te word en het sy steun aan adjunkpres. Joe Biden toegesê. Dit is ʼn enorme mislukking vir die voormalige New Yorkse burgemeester wat sy hoop op die sogenaamde Super Tuesday-state gesit het om aan hom ʼn plek in die Withuis te verseker, en meer as US$500 miljoen van sy eie geld aan die veldtog bestee het.

“Ek het aan die wedloop deelgeneem om [pres.] Donald Trump te verslaan. Vandag onttrek ek om dieselfde rede: om Donald Trump te verslaan. Dit is vir my duidelik dat as ek voortgaan, daardie doelwit veel moeiliker bereik gaan word,” het Bloomberg in ʼn verklaring gesê.

Twee van Bloomberg se voormalige Demokratiese teenstanders, Amy Klobuchar en Pete Buttigieg, het hulle vroeër al aan die wedloop onttrek.

Bloomberg sê hy ken Biden al jare lank en is deeglik bewus van sy steun vir kwessies soos beter vuurwapenveiligheid, gesondheidsorg, klimaatsverandering en goeie werksgeleenthede.

“Ek het die geleentheid gehad om lank saam met Biden aan dié kwessies te werk en hy werk sy lewe lank nog vir die werkersklas. Dit is ʼn plesier om hom te steun en ek gaan werk om hom die volgende president van die Verenigde State te maak,” het hy gesê.

Kiesers het eindelik Bloomberg se argument, dat hy die beste kandidaat is om Trump – ʼn Republikein – uit die kussings te lig, verwerp. Trump het op sy beurt die Demokrate se benoemingsproses nougeset gevolg en het veral op Bloomberg gefokus. Hy het gereeld op Twitter teen die New Yorker uitgevaar en die spot met sy lengte gedryf deur na hom as “Mini Mike” te verwys. Trump het ook gesê Bloomberg is dié kandidaat teen wie hy te staan wil kom en het die afgelope week die benoemingsuitslae ʼn “algehele verwoesting” van Bloomberg se reputasie genoem.

Bloomberg (78) is een van die wêreld se rykste mense met ʼn geraamde fortuin van US$61 miljard. Sy fortuin spruit uit sy gelyknamige finansiële data- en mediamaatskappy wat Bloomberg in die 1980’s op die been gebring het. Hy was 12 jaar die burgemeester van New York en het die guns van progressiewe groepe gewen deur honderde miljoene dollar in projekte om klimaatsverandering teen te werk en vuurwapengeweld te stuit te pomp.

Aan die begin van sy veldtog het Bloomberg sy fortuin gebruik om homself aan kiesers bekend te stel en sy teenstanders het hom daarvan beskuldig dat hy geld gebruik om die party se benoeming en die Withuis te koop. Terwyl Super Tuesday al hoe nader gekom het, is die voormalige Republikein gedwing om sy opponente in die oë te kyk en saam met hulle op ʼn debatsverhoog te verskyn. Sy eerste vertoning het nie veel vertroue ingeboesem nie.

Hy kon nie wegkom van volgehoue kritiek oor New York se gebruik van die stop-en-deursoek-beleid tydens sy termyn as burgemeester nie. Dit het veral swart en Latyns-Amerikaanse mans geteiken in soektogte na wapens. Die beleid is stopgesit nadat ʼn regter bevind het die beleid is ongrondwetlik. Bloomberg het om verskoning daarvoor gevra kort voordat hy aangekondig het dat hy as presidentskandidaat gaan deelneem.

Hy het ook deurgeloop onder kritiek – veral van teenstander Elizabeth Warren – oor die behandeling van vroue in sy maatskappy. Weens druk van Warren het hy ingestem om drie vroue wat hom van teistering en diskriminasie beskuldig het, van hul vertroulikheidsooreenkomste vry te stel.

Vroue wat vir Bloomberg werk is in ʼn advertensie gebruik waarin hulle Bloomberg en die maatskappy se behandeling van vroue prys en sy jarelange lewensmaat, Diana Taylor, het hom as kampvegter vir vroue verdedig.

Bloomberg kon ook nie beskuldigings dat hy die Demokratiese benoeming probeer koop, afskud nie. Sy rykdom was heerlike skietgoed vir Bernie Sanders, wat vantevore gesê het miljardêrs het geen bestaansreg nie. Bloomberg het weliswaar groot steun gehad danksy sy besteding aan kwessies soos vuurwapenbeheer, asook sy filantropiese pogings om Amerikaanse stede te laat herleef en leierskapsopleiding aan burgemeesters te gee. Tientalle prominente burgemeesters het sy veldtog gesteun.

Dít, tesame met Biden se herlewing in Suid-Carolina en die steun van die party se gematigde vleuel, het Bloomberg se pogings om kiesers te oortuig dat hy die beste man is om Sanders en Trump te verslaan, gekelder.

Dit is onduidelik wat Bloomberg se volgende stap is. Hy het onderneem om sy veldtogkantore in sleutel-kiesstate oop te hou om die Demokrate te help om Trump te verslaan.

Sanders se kamp het egter dié hulp van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacobus ·

Snaaks hoe Sosialiste uit duisligwekkende finansieĕle hoogtes reken hulle het al die antwoorde solank belastingbetalers betaal.
O ja, en Saunders is ook nie juis hulpbehoewend nie.

andre ·

Die spul sal nou n plan moet maak ,want die Trump trein tel geweldig spoed op.Flou verskoning van n man wat vals nuus versprei het om die presidentskap te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.