‘Boaty McBoatface’ maak debuut in Londen

(Foto: Twitter)

Die Verenigde Koninkryk se 129-meter lange skip, wat die afgelope jaar as deel van ʼn proeftydperk aan die Britse kus rondgevaar het, is amptelik gereed om die ysbedekte waters en grondgebied van Antarktika in te vaar.

Die Attenborough, wat byna “Boaty McBoatface” gedoop is nadat die Natuurlike Omgewingsnavorsingsraad (NERC) die publiek aanlyn uitgenooi het om ʼn naam vir die vaartuig te kies, is uiteindelik deur ʼn paneel van kenners na die bekende natuurkundige sir David Attenborough vernoem.

Die vaartuig bevat al die nuutste tegnologie en het ook laboratoriums aan boord wat die uitwerking van klimaatsverandering, ekostelsels, oseaansirkulasie en seevlakke in Antarktika sal toets.

Die $290 miljoen-vaartuig het ook ʼn helikopterplatform vir eksplorasie en veiligheid.

Senior internasionale wetenskaplikes van die Wetenskaplike Adviesraad, gebruik die skip as ʼn platform om die klimaatkrisis te pak. Hulle wil ʼn gesamentlike veldtog van stapel stuur om tegnologie te ontwikkel – en te gebruik – wat die wêreldwye temperatuurstyging onder 1,5 °C sal hou, en die sogenaamde “netto nul”-ekonomieë van die toekoms sal ondersteun.

Die tegnologie verbeter maniere om lae-emissie‑energie te skep, te berg en te gebruik – ook die verbetering van halfgeleiers en batterye en die produksie van lae-emissiebrandstof– sowel as die verbetering van verhitting en verkoeling en die opvang en berging van koolstof.

“Ek dink dit is belangrik om te sê dat om die wêreldwye temperatuurstyging onder 1,5 °C te hou, noodsaaklik en haalbaar is,” verduidelik sir Patrick Vallance, die hoof- wetenskaplike raadgewer van die Britse regering.

“Dit is egter slegs haalbaar as ons daadwerklik optree. Jy kan nie staatmaak op die moontlikheid dat iets toevallig gaan gebeur om ons van die klimaatkrisis te red nie. Ons moet die tegnologie wat ons nou tot ons beskikking het, benut en so gou as moontlik opgradeer en gereed kry.”

Die navorsingsvaartuig sal aan die voorpunt wees om te verstaan hoe die aarde se atmosfeer en oseane besig is om te verander en die impak wat die temperatuurstyging veral op die ysbedekte waters en landskappe van die Noordpoolstreke en Antarktika sal hê. Die skip is ʼn Polar Class 4-ysbreker, wat beteken dit het die krag om teen ʼn bestendige pas deur ysbanke van ʼn meter dik te breek sonder dat die romp beskadig word.

Die vaartuig moet voorraad aan Brittanje se belangrikste navorsingsbasis by Rothera aflewer, sowel as aan ander klein stasies om die Antarktiese Oseaan.

Sir David was ook Donderdag by die bekendstelling van sy naamgenoot teenwoordig en het die geleentheid gekry om die vaartuig te inspekteer.

Die eerste reis sal na verwagting op 18 November begin, waarna die skip suidwaarts sal vaar.

(Foto: Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.