Bob Dylan ontken ‘misbruik’ van 12-jarige in 1965

Bob Dylan in 2012. (Foto: Fred Tanneau/AFP)

Die Amerikaanse liedjieskrywer en sanger Bob Dylan (80) word daarvan beskuldig dat hy ʼn vrou in 1965 seksueel misbruik het toe sy 12 jaar oud was.

Die klaagster, wat slegs as J.C. bekend staan, voer aan dat Dylan sy “status as ʼn musikant uitgebuit het deur alkohol en dwelms aan [die klaagster] te voorsien en haar verskeie kere seksueel te misbruik”.

Die beweerde misbruik het glo in Dylan se woonstel in die Chelsea Hotel in Manhattan, New York, plaasgevind.

Dylan se woordvoerder het aan die BBC gesê “die 56 jaar oue aantygings is onwaar en sal ten sterkste teengestaan word.”

Die dagvaarding is verlede Vrydag in die New Yorkse hooggeregshof gebring onder die deelstaat se kinderbeskermingswet.

Die klaagster, wat tans in Connecticut woon, het gesê Dylan het haar “ernstige psigologiese skade en emosionele trauma berokken”.

Dylan, wat gebore is Robert Allen Zimmerman, het meer as 125 miljoen albums wêreldwyd verkoop gedurende sy loopbaan van ses dekades.

In 2016 het hy die Nobel-prys vir literatuur ontvang en sodoende die eerste liedjieskrywer geword om dié gesogte toekenning in te oes.

Die klag is ingedien ʼn dag voor die vensterperiode vir die indiening van eise ingevolge die deelstaat New York se kinderbeskermingswet gesluit het.

Die wet het slagoffers van mishandeling toegelaat om hul vermeende aanvallers te dagvaar, ongeag die ouderdom van die eise en of die verjaring daarvan verby is.

ʼn Klaagster het verlede week dié wetgewing gebruik om die Britse prins Andrew, seun van koningin Elizabeth II, te dagvaar vir seksuele mishandeling.

Virginia Giuffre voer aan dat sy sowat 20 jaar gelede deur die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein aan prins Andrew “uitgeleen” is, wat haar glo by drie geleenthede seksueel aangerand het.

Sy was tóé 17 jaar oud.

Bronne: BBC, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Misky ·

Ek verstaan die hele ding agter die venster periode, maar heng, dis darem baie lank en dekades na die beweerde voorval. Nou is dit absoluut ‘n geval van haar woord teen syne. Wonder soms of eisers nie net “dollar signs” sien en hul kans waag nie

Sarel ·

Die Hoogste Hof in Ametika het Crosby vrygelaat na soortgelyke klagte en hy skuldig bevind was Sy reputasie is egter vir ewig gedkenf… Nou Bob Dylan…sorry val nie
Daarvoor nie.

melaney ·

Hierdie vrou soek geld. Sy vat ‘n vet kans. Ek hoop die hof gooi haar saak uit. Jammer die man se naam word nou onnodig deur die modder gesleep.

Alma ·

Snaaks dat daar geen “onbekende” se slagoffers na vore kom na soveel jare nie. Dink SOMS het die vrouens maar net so lekker geparty en nou wil hulle n issue maak.

Ampie ·

Die vrou is dan nou seker 68, nou skielik onthou en soek paar rand om pensioen aan te vul, Belaglik…

Niklaas ·

Ek dink dis mog -het-troffe ! As hierdie poging slaag en miljoene word uitbetaal , is dit die begin van legio soortgelyke pogings wereldwyd om ekstra aftree geld in te win. Dis moeilik om haar verkeerd te bewys , maar as sy bevind word om kansvatter te wees, moet sy vervolg word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.