Boeing gedagvaar ná Ethiopië-vliegramp

‘n 737 Max 8 by Boeing se monteeraanleg in Renton, Washington. Foto: (AP Photo/Ted S. Warren)

Boeing het Donderdag ʼn dagvaarding ontvang in verband met die Boeing 737 Max 8-straler wat vroeër vandeesmaand neergestort het kort nadat dit in Addis Abeba in Ethiopië opgestyg het.

Dié dagvaarding kan moontlik die eerste van vele regsgedinge wees wat teen dié internasionale lugvaartreus ingestel gaan word ná Ethiopian Airlines Vlug 302 op 10 Maart neergestort het.

Die dagvaarding is namens Huguette Debets in ʼn hof in Chicago ingedien waar Boeing se hoofkantoor geleë is. Debets verteenwoordig die familie van Jackson Musoni, ʼn Amerikaner wat onder die 157 slagoffers was wat in dié ramp omgekom het. Debets voer aan die ongeluk is veroorsaak deur ʼn nuwe vlugbeheerstelsel wat in die Boeing 737 Max 8-straler, Boeing se nuutste vliegtuigmodel, geïnstalleer is.

Dié soort vliegtuig was in ʼn kwessie van vyf maande in twee vliegtuigongelukke betrokke voordat lugvaartveiligheidsowerhede wêreldwyd, waaronder Amerika, besluit het om die model vir eers te hok.

ʼn Boeing 737 Max 8 van die Indonesiese redery Lion Air het ook in Oktober verlede jaar in die Java-see neergestort kort nadat dit met 188 mense aan boord in Djakarta, die hoofstad van Indonesië, opgestyg het.

Meer as 30 familielede van die slagoffers wat in die Lion Air-ongeluk gesterf het, het ook sedertdien die maatskappy gedagvaar.

“Boeing, wat kennis gedra het van al die berigte van gevaarlike toestande asook die vorige ongeluk wat meer as 150 lewens geëis het, moes stappe gedoen het om [passasiers] te beskerm,” het Steve Marks, ʼn prokureur van die regsfirma Podhurst Orseck in Miami, gesê. Marks verteenwoordig Musoni se familie.

“Dié ongeluk het gebeur toe dit nooit moes gebeur het nie,” het Marks gesê.

Die dagvaarding volg ʼn dag ná Boeing nuwe stelsels bekend gemaak het om die sagteware van sy teenspoedige 737 Max 8-stralers te verbeter. Dit sluit in die opgradering van sagteware, die herstel van kajuitwaarskuwings en bykomende opleiding vir vlieëniers.

In hofstukke van die dagvaarding wat Donderdag ingedien is, word aangevoer die Ethiopian Airlines-vliegtuig het neergestort omdat “Boeing onder meer ʼn nuwe vlugbeheerstelsel vir die Boeing 737 Max 8 ontwerp het wat die vliegtuig se neus glo outomaties en verkeerdelik na onder druk”.

Boeing word ook in die dagvaarding daarvan beskuldig dat hy nie gebruikers gewaarsku het dat dié nuwe vliegtuig gebrekkig in ontwerp en gevaarlik is nie. “Boeing het versuim om die publiek, die lugdienste, die vlieëniers, hulle gebruikers asook die beoogde derdeparty-begunstigdes te waarsku,” lui die dagvaarding.

Die hofstukke wys ook die vinger na moontlike foutiewe sensors in die 737 Max 8.

In dagvaardings wat verlede week ingedien is, het die gesinne van twee Lion Air-passasiers ook beweer dat die maatskappy versuim het om vlieëniers en lugdienste te waarsku oor ʼn vlugkontroleprobleem. Hulle wys ook op foute in die sertifiseringsproses van die omstrede vliegtuig.

Nog familielede van die slagoffers van albei vliegtuigongelukke sal na verwagting in die komende weke regstappe teen die maatskappy doen. Charles Herrmann, ʼn lugvaartprokureur in Seattle, het gesê familielede van die slagoffers van die Ethiopië-ongeluk het reeds Amerikaanse prokureurs genader. Herrmann verteenwoordig self die gesinne van 17 slagoffers van die Lion Air-ongeluk.

Boeing het nie dadelik reageer op ʼn versoek om kommentaar te lewer rakende die jongste dagvaarding nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ne ·

Die wet van Transvaal. Boeing moet maar uithaal en wys. Niks kan ‘n lewe vervang nie.

Antjie ·

Goeie genade! Is die nuwe tegnologie nie getoets voor dit in die vliegtuie gebruik is nie???? Ek hoop Boeing betaal deur hul nek vir hierdie reuse nalatigheid.

Herman P ·

Darem erg dat sagteware so groot voel laat val.
Sou geding het mens kon oorskakel manual to as daar iets gebeur – al is dit net om noodlanding te maak..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.