Boeing-ongeluk: Kanada rou; vrae oor oorsaak

‘n Reddingswerker op die toneel waar die vliegtuig neergestort het. Foto: (AP Photo/Ebrahim Noroozi)

Daar is talle vrae nadat ʼn Boeing 737 Woensdagoggend kort ná opstyging in Teheran neergestort en die lewe van 176 mense geëis het.

Volgens Amerikaanse intelligensiebeamptes is daar geen onmiddellike bewyse dat die vliegtuig neergeskiet is nie. Die Boeing 737 van Ukraine International Airlines het neergestort net ure nadat Iran missiele op Amerikaanse teikens afgevuur het.

Die tydsberekening hiervan laat talle lugvaartkenners wonder of die vliegtuig moontlik deur ʼn missiel getref is. Iran ontken dit egter ten sterkste en het gesê die vliegtuig het meganiese probleme ondervind.

Die vliegtuig was onderweg na die Oekraïense hoofstad Kiev met 167 passasiers en nege bemanningslede aan boord, onder wie 82 Iraniërs, minstens 63 Kanadese en 11 burgers van die Oekraïne.

Talle passasiers was internasionale studente wat aan universiteite in Kanada studeer het. Volgens Justin Trudeau, eerste minister van Kanada, is ʼn pasgetroude paartjie en ʼn gesin van vier ook onder die slagoffers.

Trudeau het beloof dat sy regering antwoorde sal kry. Die land se vlag het halfmas by die parlement in Ottawa gehang.

Justin Trudeau. Foto: (Sean Kilpatrick/The Canadian Press via AP)

“Kanadese het vrae en hulle verdien antwoorde,” het Trudeau gesê. Op ʼn vraag aan Trudeau oor of hy kan sê die vliegtuig is neergeskiet, het hy gesê: “Ek kan nie. Dit is te vroeg om te bespiegel.”

Oekraïense beamptes het aanvanklik ook gesê die drie en ʼn half jaar oue vliegtuig het weens meganiese probleme neergestort, maar later gesê hulle sal wag op die uitslag van die ondersoek.

Boeing het sy medelye met die slagoffers se families betuig en gesê hy is gereed om sy samewerking in die ondersoek te gee.

Albei sogenaamde swart bokse van die vliegtuig is opgespoor. Gegewe die spanning tussen Iran en die VSA, is dit nog nie duidelik of die Iraniërs inligting oor die ondersoek met ondersoekbeamptes van die VSA en sy bondgenote sal deel nie.

Ondersoekers van die land van die vliegtuig se oorsprong – in hierdie geval die VSA – neem gewoonlik deel aan ondersoeke na groot vliegtuigongelukke in ander lande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Roger ·

Dalk ‘n voël getref met opstyg, wat die een engin beskadig het. Meer realistiese en minder sensasionele moontlikheid…

Rooi Jan ·

Die 737-800 kan met gemak vlieg as hy een enjin verloor. So dan moes dit twee “voeltjies” gewees het wat die enjins presies gelyk getref het ongeveer 30-40 meter uitmekaar uit. En die vliegtuig is 3 jaar oud, meeste van hierdie vliegtuie kan ten minste 10 jaar lank vlieg solank hulle behoorlik onderhou word. Nee wat hier het iets gebeur ons moet net duim vashou dat Iran toelaat dat die insident ten volle ondersoek word.

Heksie ·

of die motore foutief was, afgeskiet is, of selfs ‘n vlieënde voël getref het, die waarheid sal wel uitkom … Tragiese gebeure

Wondernet ·

Ons hoop nie Iran het die Boeing misgis met ‘n aanvallende DRONE nie!

Alexz ·

ñ Vliegtuig is op sy kwesbaarste gedurende opstyg en landings proses. Die geringste abnormaliteit kan fataal wees. Dit sluit in weerstoestande, meganika en menslike oordeel. Ons sal moet wag vir die ondersoek se antwoorde en daarin berus.

Niklaas ·

Die waarheid sal hopelik gou uitkom , as die owerhede van Iran gaan saamwerk en die wrakstukke plus Black boxes laat ondersoek deur Boeing se aangestelde beamptes. Sulke ondersoekers sal weinig mis.

Grens ·

Foto’s van die wrakstukke lyk amper soos skrapnel duike op die stert vere van die Boeing.
Ek vermoet dalk per ongeluk afgeskiet met al die misielle wat nou rondvlieg daar, of moontlik ‘n bom aan boord. Dit is baie onwaarskynlik dat ‘n enjin probleem die vliegtuig so maklik kon laat val. Die vlug radar stop ook baie vinnig na stabiele klim in hoogte. Irak weier ook nou om die “black Boxes” oor te handig. Jammer vir al die passisiers wat hulle lewens so verloor het.

John ·

… daar is seker gemaak dat niemand, maar niemand oorbly nie. Daar was ook Irannese met dubbele burgerskap op die vlug en dalk iemand wat kon gaan uitpraat oor Iran se militère planne. Die vliegtuig lè in brokstukkies. Duidelik die ergste vorm van ‘n vliegongeluk en dalk juis so beplan?

Engela de Klerk ·

Dit blyk nou nie meer te betwyfel dat die vliegtuig wel afgeskiet was. Nou moet Iran net bewys of dit ‘n ongeluk was en of met opset. Regstelling – 138 passasiers was oppad na Kanada. Geweldige verlies van uiters bekwame mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.