Boeing ontwikkel nuwe sagteware vir 737 Max-vliegtuig

(Argieffoto)

Boeing het nuwe vlugbeheersagteware ontwikkel vir sy vloot 737 Max-vliegtuie ná onlangse vliegtuigongelukke in Ethiopië en Indonesië, het die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) Woensdag gesê.

“Boeing het ook vlugbemanningsopleiding ontwikkel wat met hierdie sagteware verband hou,” het die FAA in ʼn verklaring gesê. Hersiening van die sagteware-installering en opleiding is “ʼn prioriteit van die agentskap”.

Die FAA het benadruk dat ʼn opdrag, om alle Boeing 737 Max 8 en Max 9-vliegtuie te hok, “bly van krag”.

Verskeie lande het Boeing 737 Max-vliegtuie gehok ná ʼn vliegtuigongeluk in Ethiopië op 10 Maart wat 157 persone se lewens geëis het.

Dieselfde Boeing-model van die Amerikaanse vervaardiger was in Oktober betrokke in ʼn Lion Air-vliegtuigongeluk in Indonesië waartydens 189 persone omgekom het.

Data van die vlugopnemer van die Ethiopiese vliegtuigongeluk wys ooreenkomste tussen die twee ongelukke.

ʼn Stuk sagteware wat vir vlugbeheer gebruik word, word spesifiek ondersoek. Boeing het onderneem om teen April ʼn sagteware-opgradering vry te stel.

Altesaam 461 van die 737 Max-vliegtuie was teen 11 Maart 2019 wêreldwyd in gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Abe ·

Nuwe vlugbeheer sagteware … dis n bietjie mosterd na die maal… shutting the stable when the horse has bolted.

Alida ·

Abe baie motors word ook onttrek weens meganiese foute. Mense vervaardig die goed nie superhelde nie. Enige voertuig, skip of vliegtuig is n risiko.

Piet Snot ·

Ek moet baie vlieg, so ek het ‘n belang hierby. Alida, ek’s bevrees jy’s verkeerd. ‘n Paar honderd mense het gesterf weens ‘n bewuste besluit v Boeing om stilletjies ‘n maak-hom-reg-met-bloudraad-en-‘n-draadtang oplossing in te stel, ewe suutjies vir niemand daarvan te sê nie, geen vlieënieropleiding te gee nie, en staat te maak op ‘n enkele sensor in die vliegtuig se neus.
Dis die tipe ding waarvoor ‘n CEO tronk toe behoort te gaan.

David ·

Hierdie probleem moes al aangespreek gewees het nandie Lion Air ramp.

Mens kan nie ‘n hele vliegtuig vol mense se lewe laat afhang vanaf ‘n enkele sensor nie. Dit is duidelik ‘n kritiese sensor.

Ook, die vlieëniers moes opleiding gekry het op die nuwe Boeings, wat nie gedoen is nie. Daar was ‘n paar insidente waar loodse soortgelyke rampe afgeweer het, deur die autonome navigasie stelsel af te sit en die vliegtuig onder beheer te bring.

Ek blameer Boeing vir albei die rampe.

Mag die families wat geliefdes verloor het berusting vind.

Snoopie ·

Alida, stem saam met jou. Om nou wragtig n perd van n vliegtuig maak??

Chris Ws ·

Mense lewens kan nie in geld gemeet word nie.Boeing hoord hof toe gevat te word vir die 364 mense wat gesterf het in HUL 737 Max 8 vliegtuie en behoord gedwing te word om miljoene $ kompensasie aan hul naasbestaandes te betaal.Boeing is nie met ‘n tv speletjie besig nie.Honderde Heel families se lewens is vir ewig aan skerwe geruk.
Alida se kommentaar spreek van onkunde.

@Chris ..Ai ·

Stem Chris! Met hul proeflopies betaal ander mense met hul lewens! N lewe kan nie terug gegee word nie!
Alhoewel die hartseer nooit sal weggaan nie voel ek hul moet die slagoffers se families baie baie baie goed kompenseer sodat die lugleerderye maatskappy verstaan sulke foute mag maar net nie gemaak word nie!

Gemaskerde Sopbeen ·

My rekenaar crash ook gereeld…..want Windows wil namens my dink. Leer mense nie?

Charlie ·

n Spul ignoramusse (sic) wat hulle opinies uitspreek oor dinge waarvan hulle absoluut geen benul het nie.

Hierdie industrie is deurspek van duisende HOOGS opgeleide en ervare gekwalifiseerde INGENIEURS wie se lewenstaak dit is om vlieg met vliegtuie veilig te maak.
Ten spyte van die twee noodlottige gevalle is en bly passasiersvliegtuie by verre weg die veiligste vorm van vervoer.
Die aantal motorbotsings in die RSA per DAG vergelyk sleg met die aantal noodlottige insidente met vliegtuie per JAAR.

Ai ·

Julle kan maar daai 737 met goud stof oor sproei en diamante die die bakwerk meer versier maar in n 737 klim ek nooit!

Gustav ·

Vlieg is eintlik die tweede veiligste vervoermiddel. Roltrappe is die veiligste. Raar maar waar

Andre ·

Moderne tegnologie is wonderlik en baie gemaklik……………alles elektronies………….totdat daar n foutjie insluip. Ervaring en kennis kan nooit daardeur vervang word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.