Boeing stort in see neer minute ná dit opstyg

Reddingswerkers bestudeer wrakstukke wat in die see gevind is en vermoedelik van die Lion Air-vliegtuig afkomstig is. Foto: BNPB via AP

ʼn Boeing 737 passasiervliegtuig van die Indonesiese redery Lion Air het in die see neergestort kort nadat dit Maandagoggend met ongeveer 188 mense aan boord in Djakarta, hoofstad van Indonesië, opgestyg het.

Die vliegtuig het om 06:20 (plaaslike tyd) opgestyg op pad na Pangkal Pinang, ʼn stad op die Bangka-eiland. Data vir vlug 610 van die vliegtuig op die vlugnasporingswebtuiste FlightAware eindig minute nadat die vliegtuig opgestyg het.

“Ons kan bevestig dat ons met een van ons vlugte kontak verloor het,” het Danang Mandala Prihantoro, woordvoerder van Lion Air, kort na die voorval gesê.

Die bemanning van ʼn sleepboot het aan die Djakarta- soek-en-reddingskantoor gesê hulle het gesien hoe ʼn Lion Air-vliegtuig val. Verskeie bote het hulle na die plek waar die vliegtuig geval het gehaas, sowat 62 km noordoos van die kus naby Djakarta in die Java-see.

BBC berig Yusuf Latif, woordvoerder van die soek-en-reddingsdienste, het gesê die vliegtuig het in 30 m tot 40 m diep water geval. Items wat vermoedelik aan passasiers behoort het soos ID-kaarte, bestuurslisensies en ʼn selfoon is in die water gevind.

Reddingswerkers bestudeer wrakstukke wat in die see gevind is en vermoedelik van die Lion Air-vliegtuig afkomstig is. Foto: BNPB via AP

“Ons weet nog nie of daar enige oorlewendes is nie,” het die agentskap se hoof, Muhammad Syaugi, aan verslaggewers gesê. “Ons hoop, ons bid, maar ons kan nog niks bevestig nie.”

Alan Diehl, ʼn voormalige ongeluksondersoeker, het aan CNN gesê lugveiligheidsondersoekers sal na vier kategorieë kyk as moontlike oorsaak van die ongeluk: ʼn meganiese oorsaak, ʼn menslike oorsaak, weerstoestande of ʼn kriminele oorsaak.

Lion Air is een van Indonesië se jongste en grootste lugrederye en vlieg na talle plaaslike en internasionale bestemmings. In 2013 het een van sy vliegtuie die landingstrook gemis toe dit in Bali geland het en in die see te lande gekom. Geen van die 108 mense aan boord is dood nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jean ·

Klink na ‘n tegniese probleem, aangesien die vlieënier blykbaar versoek het om terug te keer na die lughawe vanwaar hul opgestyg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.