Boek sonder paragraafonderbrekings wen Booker-prys

Paul Lynch, ʼn Ierse skrywer, het die Boeker-prys vir fiksie gewen. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Die 2023 Booker-prys vir fiksie is Sondag toegeken aan Paul Lynch, ʼn Ierse skrywer, vir sy roman, Prophet Song, ’n distopiese werk oor ’n Ierland wat in tirannie verval.

Die 46-jarige is die vyfde Ierse skrywer aan wie dié gesogte literêre toekenning toegeken word. Noemenswaardige voormalige wenners sluit skrywers soos Salman Rushdie, Hilary Mantel en Margaret Atwood in.

“Dit was nie ’n maklike boek om te skryf nie,” het Lynch gesê nadat hy Sondag sy toekenning met prysgeld van £50 000 (sowat R1,2 miljoen) in Londen ontvang het.

Sy boek speel in Dublin in die nabye toekoms in ʼn weergawe van Ierland af. Dit volg die stryd van ’n ma van vier terwyl sy probeer om haar gesin van totalitarisme te red.

Die boek het geen paragraafonderbrekings nie.

“Die rasionele deel van my het geglo dat ek my loopbaan verdoem deur hierdie roman te skryf, alhoewel ek in elk geval die boek moes skryf. Ons het nie ’n keuse in sulke sake nie,” het Lynch oor die boek bygevoeg.

Esi Edugyan, Kanadese romanskrywer wat die voorsitter van die Booker-beoordelaarspaneel was, het die storie “’n triomf van emosionele storievertelling, versterking en dapperheid” genoem.

“Sy boek vang die sosiale en politieke angs van ons huidige samelewing vas. Lesers sal dit sielskuddend en eg vind, en sal nie gou die waarskuwings daarvan vergeet nie.”

Skrywers van enige nasionaliteit kon hul Engelse skryfwerk wat in die Verenigde Koninkryk of Ierland tussen 1 Oktober 2022 en 30 September 2023 gepubliseer is, vir die Booker-prys inskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.