Bokke wen gesogte toekenning

Lede van die Springbokke met hul toekenning. Foto: (AP Photo/Michael Sohn)

Suid-Afrika se seëvierende Springbok-rugbyspan het die gesogte Laureus-toekenning vir span van die jaar gewen.

Die toekennings is gisteraand in Berlyn uitgedeel. “Ons raak regtig mense se lewens aan op ʼn manier wat die regering en politici nie kan nie,” het Siya Kolisi, Bok-kaptein, gesê. Jacques Nienaber, aangewese Bok-afrigter, Francois Louw, Cheslin Kolbe en Faf de Klerk was onder andere ook saam met Kolisi op die verhoog.

Die Springbokke het teen Liverpool se sokkerspan, Mercedes-Benz se F1-renspan, Spanje se basketbalspan, die VSA se vrouesokkerspan en die Toronto Raptors-basketbalspan in die span van die jaar-kategorie te staan gekom.

Die inspirerende swem-ster Natalie du Toit was Suid-Afrika se ander benoemde vir die gesogte sporttoekennings. Sy was benoem in die kategorie vir sportoomblikke van die afgelope twee dekades. Die Indiese krieketster Sachin Tendulkar het egter die toekenning ontvang vir Indië se Wêrelbeker-oorwinning in 2011.

Die ander benoemdes was die Duitse sokkerspeler Miroslav Klose en die Amerikaanse tennis-sussies, Venus en Serena Williams.

Lewis Hamilton. Foto: Twitter

Die Formule Een-wêreldkampioen Lewis Hamilton en Argentynse sokkerspeler Lionel Messi is albei as sportman van die jaar aangewys. Dit is die eerste keer in die toekennings se geskiedenis dat dié toekenning gedeel word. Eliud Kipchoge (atletiek, Kenia), Rafael Nadal (tennis, Spanje), Tiger Woods (gholf, VSA) en Marc Marquez (motorsport, Spanje) is ook benoem.

Die Amerikaanse gimnas Simone Biles is as sportvrou van die jaar aangewys. Sy het op 22-jarige ouderdom vyf goue medaljes in die Wêreldkampioenskappe gewen. Sy is ook in 2017 en 2019 as Laureus se sportvrou van die jaar aangewys.

Allyson Felix (atletiek, VSA), Megan Rapino (sokker, VSA), Mikaela Shiffrin (ski, VSA), Naomi Osaka (tennis, Japan) en Shelly-Ann Fraser-Pryce (atletiek, Jamaika) was die ander benoemdes.

Laureus se spesiale prys vir buitengewone prestasie is aan die Spaanse basketbalfederasie toegeken. Die federasie se mans- en vrouespanne was verlede jaar die Europese en Wêreldkampioene.

Die fietsryer Egan Bernal het die deurbraak van die jaar-toekenning ontvang. Bernal was op 22 die jongste wenner van die Tour de France in 110 jaar en die eerste persoon van Colombië om te wen.

Sachin Tendulkar. Foto: (AP Photo/Michael Sohn)

Die ander benoemdes was Andy Ruiz (boks, VSA), Bianca Andreescu (tennis, Kanada), Coco Gauff (tennis, VSA), Japan se rugbyspan en Regan Smith (swem, VSA).

Sophia Florsch van Duitsland het die toekenning vir terugvegpoging van die jaar gewen. Die 18-jarige Formule Drie-renjaer het in November na amper ’n jaar na die Macau-baan teruggekeer na ʼn gru-ongeluk wat tot gevolg gehad het dat sy ʼn rugoperasie moes ondergaan.

Die ander benoemdes was Andy Murray (tennis, Brittanje), Christian Lealiifano (rugby, Australië), Kawhi Leonard (basketbal, VSA), Liverpool (sokkerspan, Engeland) en Nathan Adrian (swem, VSA).

Oksana Masters is as die sportpersoon van die jaar met ʼn gestremdheid aangekondig, terwyl die Duitse basketbalspeler Dirk Nowitzki die prys vir lewenslange prestasie ontvang het.

Chloe Kim van die VSA is as aksie sportpersoon aangewys en South Bronx United het die toekenning ontvang vir sport vir ʼn goeie doel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
johan

Baie geluk julle manne. Lekker om vir eens goeie nuus te he.

Soek opregte maatjie

Veels geluk aan die hele rugby Bokspan en die bestuur. Voorwaar ‘n uitsonderlike prestasie. Weereens het hulle gewys wat gedoen kan word as almal saamwerk. Die regering moet leer uit die Springbokke se prestasies. Siya vir President en sy span is die parlementslede.

Soek opregte maatjie

Weereens het die Springbokke die Engelse (Liverpool) gewen.

Daleen

Dankie tog Faf het nie in sy SA speedo opgedaag nie????

isabelle

TROTS!!! was n goeie jaar vir Sa en naam maak