Boko Haram-ontvoering: Tweede meisie gevind

Serah Luka, een van die meisies wat in Mei 2016 gered is ná 'n massa-ontvoering deur Boko Haram in April 2014 in Chibok, Nigerië (Foto verskaf deur die Nigeriese weermag)

Serah Luka, een van die meisies wat in Mei 2016 gered is ná ‘n massa-ontvoering deur Boko Haram in April 2014 in Chibok, Nigerië (Foto verskaf deur die Nigeriese weermag)

Die Nigeriese weermag het Vrydag bevestig ʼn tweede meisie is deur plaaslike soldate gered en het haar uitgeken as een van die skoolmeisies wat in April 2014 deur die terreurgroep Boko Haram uit Chibok ontvoer is.

“Die meisie, Serah Luka, is Donderdag tydens ʼn operasie in Damboa gered,” het kol. Sani Kukashek Usman, woordvoerder van die weermag, in ʼn verklaring gesê.

Dit volg ná Amina Ali-Nkeki Sondag gered is.

“Luka was een van 97 vroue en kinders wat in die operasie gered is, waartydens 35 Boko Haram-terroriste doodgemaak is,” het Usman bygevoeg. “Die weermag het ook beslag gelê op vuurwapens en ammunisie.”

Luka, wat glo ʼn dogter is van ʼn pastoor in Chibok, is uitgeken as nr. 157 op die lys van ontvoerde meisies wat die Nigeriese owerhede vroeër beskikbaar gemaak het.

Volgens Usman het die meisie gesê sy was skaars vyf weke lank by die sekondêre skool in Chibok voor sy ontvoer is.

“Sy ondergaan tans mediese behandeling in Biu, Borno,” het hy bygevoeg.

Altesaam 276 meisies is deur Boko Haram-militante ontvoer. Buiten die twee meisies wat vandeesweek gered is, het 57 net ná die massa-ontvoering ontsnap.

Boko Haram het reeds meer as 10 000 mense doodgemaak, hoofsaaklik in die noordooste van Nigerië, sedert die groep in 2009 met sy gewelddadige veldtog begin het. Die Nigeriese weermag het die afgelope jaar vordering gemaak in sy stryd teen die terreurgroep.

Lees alle vorige berigte oor Boko Haram op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.