Boko Haram uit laaste vesting verslaan, sê Nigerië

Boko Haram (argieffoto) Foto: scgnews.com

Boko Haram (argieffoto) Foto: scgnews.com

Nigerië se president het Saterdag gesê die Islamitiese terreurgroep Boko Haram is uit sy laaste vesting in die Sambisa-woud in die noordooste van die land verslaan.

Boko Haram se grootste basis, “Camp Zero” is Vrydag deur militêre beamptes oorgeneem. Lt.genl. Tukur Buratai, die hoof van die weermag, het pres. Muhammadu Buhari Saterdag in kennis gestel.

Buhari het dit as “die mees verblydende nuus” beskryf. “Die hoof van die weermag het my laat weet dat die terroriste vlug, en nie meer ʼn wegkruipplek het nie. Ek maan julle om die tempo te volhou om hulle te jaag en geregtigheid te laat geskied.”

Boko Haram het gemeenskappe in die noordooste van Nigerië geteister en ook aanvalle geloods op Tsjad, Niger en Kameroen. Die groep se doelwit is om ʼn streng interpretasie van Islamitiese wet, die sharia, af te dwing.

Minstens 14 000 mense is sedert 2009 dood as gevolg van Sunni-fundamentaliste in Nigerië, Tsjad, Kameroen en Niger. Volgens die Verenigde Nasies het ʼn geraamde 2,7 miljoen mense uit die streek gevlug weens Boko Haram.

Buhari het ook die weermag versoek om hul pogings te verskerp om die oorblywende Chibok-meisies, wat nog steeds in aanhouding is, te bevry. Boko Haram het op 14 April 2014 altesaam 276 meisies en jong vroue van hul skool in Chibok ontvoer. Slegs ongeveer 50 meisies kon dadelik ontsnap. Altesaam 21 meisies is in Oktober vrygelaat ná onderhandelings deur die Rooikruis en Switserland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Rookskerm en leuns! Tipiese Afrika versteurde denke en self geloof…kyk mooi hoe Afrika homself vermoor en verjaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.