Boks se ‘Billy Elliot’ wen brons by Spele

Harry Garside in die bokskryt tydens vanjaar se Olimpiese Spele. (Foto: Twitter)

Die bokser Harry Garside, wat spog dat ballet sy geheime wapen is, het die eerste Olimpiese medalje vir boks in 33 jaar vir Australië verwerf.

Garside (24), ʼn loodgieter van beroep, het tydens Vrydag se hafeindronde 5-0 teen die Kubaan Andy Cruz verloor. Hy verwerf egter steeds ʼn medalje, aangesien albei verloorders in die halfeindronde van boks ʼn brons medalje kry.

“My hart is ʼn klein bietjie gebreek,” het Garside ná afloop van Vrydag se nederlaag gesê. “Ek gaan nou harder werk en hoop om oor drie jaar in die Olimpiese Spele in Parys beter te vaar.”

Australië het algeheel sesde in vanjaar se Olimpiese Spele geëindig, met 46 medaljes, waarvan 17 goud, sewe silwer en 22 brons is. Amerika is eerste, met 113 medaljes, waarvan 39 goud is. China, met 38 goue medaljes en altesaam 88, is algeheel derde.

Die Australiese bokser Harry Garside het brons by die 2020 Olimpiese Spele verwerf. (Foto: Mike Frey/AFP)

Dit is geen geheim dat Garside balletklasse neem om sy voetwerk in die bokskryt te verbeter nie. Kyk ‘n video van hom in die balletklas hier.

Garside het Dinsdag ná sy oorwinning in die kwarteindstryd gespot dat hy amper ʼn rok aangetrek het vir die Spele se openingseremonie, maar daarteen besluit het omdat hy bang was hy vat iemand in die gesig.

Garside, die jongste van drie seuns, het begin boks toe hy nege was. Hy vertel sy gesin was aanvanklik geskok oor sy sportkeuse omdat hy maar ʼn klein outjie was. “Omdat ek so klein gebou was, het ek ʼn geheime wapen nodig gehad, daarom dat ek balletklasse begin neem het,” het hy aan Perth Now gesê. “Ek sal nie jok nie, ek wou nog altyd ballet beproef. Ek sê maar ek doen dit vir boks, maar ek wou eintlik nog altyd dans.”

Garside sê ballet is baie moeilik. “Jy het sterk bene en goeie koördinasie nodig. Alles daaromtrent is net uitsonderlik.”

  • Bykomende inligting deur AFP

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Frank

Goed gedoen Aus!!! Seker agv al die Suid Afrikaners wat deesdae daar woon