Bom by winkelsentrum in Colombia

Andino-winkelsentrum in Bogotá, Colombia (17 Junie 2017) Foto: AP Photo/Ricardo Mazalan

ʼn Tuisgemaakte bom wat in ʼn vrouebadkamer geplaas is, het Saterdag deur een van die besigste winkelsentra in Colombia se hoofstad geruk.

Minstens drie persone, insluitend ʼn vrou van Frankryk, is dood en nege ander is beseer.

Ooggetuies het gesê hulle is uit fliekteaters en winkels ontruim ná die ontploffing by die luukse Centro Andino in die hartjie van Bogotá se toeriste-distrik. Ambulanse en brandweerwaens het na die toneel gehaas en die beseerdes is na ʼn hospitaal geneem, waar twee persone later gesterf het.

Die polisie het gesê ʼn kragtige springstof, moontlik ammoniumnitraat, het die verwoesting veroorsaak.

Burgemeester Enrique Penalosa het dit ʼn “lafhartige terreur-bomaanval” genoem en die aandag het dadelik gefokus op die Nasionale Bevrydingsleër, die laaste rebellebeweging wat steeds in Colombia aktief is. Die groep, bekend as ELN, het ʼn reeks aanvalle geloods teen polisieteikens in Bogotá, maar leiers het ontken dat hulle betrokke was by dié bomaanval.

Pres. Juan Manuel Santos het Saterdagaand die winkelsentrum besoek, waar hy die bomaanval ten sterkste veroordeel het. Hy wou egter nie spekuleer wie verantwoordelik was nie. Hy het gesê hy sal Sondag met veiligheidsraadgewers vergader voordat hy na Europa vertrek vir ʼn reis deur die kontinent wat voorheen beplan is, insluitend ʼn besoek aan Frankryk.

“Die Franse weet presies hoe om op hierdie terreuraanvalle te reageer, en ons in Colombia moet ook nie toelaat dat ons geïntimideer word nie,” het hy gesê.

‘n Vrou by Andino-winkelsentrum in Bogotá, Colombia (17 Junie 2017) Foto: AP Photo/Ricardo Mazalan

Penalosa het gesê die 25-jarige Franse slagoffer, Julie Huynh, was in Bogotá die afgelope ses maande waar sy vrywillig by ʼn skool in ʼn arm woonbuurt gewerk het. Sy het reeds beplan om na Frankryk terug te keer saam met haar ma, wat haar na Bogotá vergesel het.

“Ons versoek persone om nie roekelose beskuldigings te maak nie,” het ELN-onderhandelaars by vredesgesprekke in Ecuador, op Twitter gesê. “Dit is ʼn manier hoe persone die vredesproses wil ontwrig.”

Die ELN het in Februarie verantwoordelikheid aanvaar vir ʼn bomaanval in Bogotá waartydens een polisiebeampte dood is en 20 persone beseer is. Die groep het egter gesê hy teiken nie burgerlikes nie.

Penalosa het inwoners van Bogota se luukse distrikte gemaan om op ʼn hoë gereedheidsgrondslag te wees, maar het gemaan dat daar nie ʼn teken is dat ander aanvalle beplan word nie.

Die regering het verlede jaar ʼn vredesverdrag onderteken met die Revolusionêre Gewapende Magte van Colombia, wat groter is as die ELN. Sommige annaliste skryf ʼn toename in geweld in Colombiaanse stede toe aan die ELN se begeerte om toegewings van die regering by die onderhandelingstafel uit te wis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.