Bomaanvalle eis talle, onder wie joernaliste

Foto: AP Photo/Massoud Hossaini

Minstens 25 mense is dood in twee selfmoordbomaanvalle wat Maandag kort agtereenvolgens in die

Afgaanse hoofstad Kaboel uitgevoer is.

ʼn Fotograaf van die Franse nuusagentskap Agence France-Presse (AFP), vyf plaaslike joernaliste en vier polisiebeamptes tel onder die oorledenes. Hashmat Stanekzai, woordvoerder van die polisie, het gesê minstens 45 mense is in die aanvalle gewond.

Volgens AFP is sy hooffotograaf in Kaboel, Shah Marai, dood in die tweede ontploffing nadat hy en ander joernaliste hulle na die toneel van die eerste bomaanval gehaas het.

Die Islamitiese Staat het verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar.  Die selfmoordbomaanvalle het in die Shash Darak-gebied plaasgevind waar die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) se hoofkantoor sowel as verskeie ambassades is.

Foto: AP Photo/Massoud Hossaini

Volgens Stanekzai was die eerste selfmoordbomaanvaller op ʼn motorfiets. Die tweede ontploffing het diegene wat hulle na die toneel van die eerste bomaanval gehaas het, geteiken. Die tweede bomaanvaller was te voet op die toneel en het hom glo as ʼn joernalis voorgedoen.

ʼn Selfmoordbomaanvaller van die Islamitiese Staat het verlede week ʼn kiesersregistrasiesentrum in Kaboel geteiken. Minstens 60 mense is dood en meer as 130 beseer.

ʼn Selfmoordbomaanval in Kaboel verlede maand het tot die dood van 31 mense gelei en minstens 65 beseer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.