Bootvlugtelinge sterf in gevegte oor kos en water

'n Vrou in Atjeh. Foto: AP Photo/Binsar Bakkara/ANA

‘n Vrou in Atjeh. Foto: AP Photo/Binsar Bakkara/ANA

Tot soveel as 100 mense aan boord van ’n boot wat sowat 700 vlugtelinge eers na Indonesië, en toe na Maleisië probeer neem het, het in gevegte om die laaste beskikbare kos en water omgekom.

Die gevegte het tussen Bangladesjers en lede van Mianmar (Birma) se Rohingya-stam uitgebreek. Mianmar erken die Rohingya, Moslems wat volgens taalverwantskap oorspronklik uit die huidige Bangladesj moes gekom het, nie as burgers nie. Die VN beskou hulle as die mees verdrukte minderheid ter wêreld.

Die strydendes, wat mekaar beskuldig, vertel dat mense doodgesteek is, opgehang is en oorboord gegooi is.

Die boot is aanvanklik deur Indonesië landing geweier, waarna Maleisië die boot ook weer die diepsee ingestuur het. Verskeie Oosterse lande weier om bootvlugtelinge te ontvang.

Die oorlewendes is uiteindelik deur Indonesiese vissermanne gered en na die eiland Atjeh geneem, waar die gruverhaal hom ontvou het. Die oorlewendes ly erg aan dehidrasie en ondervoeding.

Die internasionale gemeenskap doen ’n beroep op Oosterse lande om bootvlugtelinge te ontvang. Hierdie lande wil egter dat Bangladesj en Mianmar meer doen om te keer dat mense uit hul land van herkoms vlug. Mianmar het reeds aangedui dat hy ’n beplande internasionale beraad sal boikot as die Rohlingya op die agenda is.

The Telegraph,  De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.