Boris Becker brom oor ‘fiktiewe’ nuus uit tronk

Die Wandsworth-gevangenis in Brittanje. (Foto: Wikipedia)

Die reeds berugte tennislegende Boris Becker is vies vir media-ondernemings wat, volgens Becker, “fiktiewe inligting” oor hom plaas sedert hy toegesluit is.

Die voormalige Wimbledon-kampioen is einde April vir twee en ʼn half jaar tronk toe gestuur nadat hy deur ʼn Britse hof skuldig bevind is op aanklagte wat verband hou met sy bankrotskap in 2017.

Becker geniet steeds omvattende mediadekking, veral in Duitsland, sedert die tronkdeure agter hom toegeslaan het, maar sy regsverteenwoordiger Christian-Oliver Moser het Vrydag gesê bitter min van dié berigte is waar.

Die Duitse dagblad Bild het byvoorbeeld berig dat verskeie noodoproepe vanaf Becker se selfoon in die tronk gemaak is, waartydens hy gekla het oor die kos en dat hy aan engtevrees ly. Hy word in Wandsworth-gevangenis in Londen aangehou, net ʼn paar kilometer van Wimbledon se tennisbaan.

Tennis World USA het ook berig Becker is na ʼn gemakliker deel van die tronk verskuif nadat hy gekla het dat sy sel te klein is. Die deel van die tronk waarheen hy oorgeplaas is, het glo minder streng reëls en gevangenes kan meer gereeld buite hul selle rondbeweeg. Die Britse nuusblad Mirror berig hy was glo “geskok” oor die gebrek aan higiëne in die tronk, aangesien dit so oorbevolk is.

Moser sê egter daar steek geen waarheid in dié bewerings nie en Becker ontken hy het noodoproepe gemaak of oor iets gekla. “Natuurlik is die situasie nie lekker nie, maar hy [Becker] aanvaar dit.”

Moser het gesê hy is nie seker waar die inligting wat aan die media uitgelap word, vandaan kom nie. “Ek kan maar net raai daar is mense wat in die tronk werk en hierdie valse inligting aan die media verskaf.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.