Boris Becker op pad tronk toe

Boris Becker. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Die voormalige Wimbledon-kampioen Boris Becker is Vrydag vir twee en ʼn half jaar tronk toe gestuur nadat hy deur ʼn Britse hof skuldig bevind is op aanklagte wat verband hou met sy bankrotskap in 2017.

Die Southwark Crown-hof in Londen het beslis dat Becker (54) net die helfte van hierdie vonnis sal uitdien.

Die sesmalige Grand Slam-kampioen is daaraan skuldig bevind dat hy groot bedrae geld uit sy sakerekening oorbetaal het en versuim het om ʼn eiendom in Duitsland te verklaar ten tyde van die verklaring van sy bankrotskap. Hy het ook die feit dat hy byna $900 000 se skuld en aandele in ʼn tegnologiefirma het, versteek.

Hy is vroeër vandeesmaand vrygespreek op ʼn verdere 20 aanklagte, insluitend nege aanklagte waarin hy versuim het om trofees en medaljes wat hy tydens sy tennisloopbaan gewen het te oorhandig.

Becker het aan die jurie gesê hy weet nie waar die memorabilia, insluitend twee van sy drie Wimbledon-mansenkelspeltrofees, is nie.

Regter Deborah Taylor het Becker – wat Wimbledon destyds as ʼn ongekeurde tiener gewen het – op voorwaardelike borg vrygelaat voor die vonnisoplegging Vrydag.

“Jy het nie berou getoon of aanvaarding van jou skuld nie en het probeer om jouself te distansieer van jou oortreding en bankrotskap,” het die regter gesê.

“Terwyl ek jou vernedering as deel van die verrigtinge aanvaar, was daar op geen stadium enige nederigheid getoon nie.”

Taylor het gesê Becker se vorige skuldigbevinding in Duitsland vir belastingoortreding was “ʼn beduidende verswarende faktor” vir die vonnis.

Dit is nog nie duidelik of Becker teen die vonnis sal appelleer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.