Boris Becker se trofeë verkoop om skuld te delg

Boris Becker (2019) (Foto: Sven Mandel, eie werk via Wikimedia Commons)

Sommige trofeë wat die voormalige tenniskampioen Boris Becker gewen het, is op ʼn veiling vir £700 000 (sowat R13,4 miljoen) verkoop om sy skuld te delg, het ʼn Britse hof Donderdag gehoor.

Die sesmalige Grand Slam-kampioen word daarvan beskuldig dat hy versuim het om nege ander toekennings, insluitend twee van sy drie Wimbledon-trofeë en ʼn Olimpiese goue medalje, te oorhandig ná hy in 2017 bankrot verklaar is.

Die hof in Londen het gehoor dat Becker voel hy is “swak behandel” deur die privaat bank Arbuthnot Latham, wat verrigtinge teen hom begin het oor skuld van meer as £3 miljoen op ʼn lening vir sy landgoed in Mallorca – waarvan ʼn deel aan ʼn jaarlikse rentekoers van 25% onderwerp word.

Trustee Mark Ford, een van die persone wat beslag moes lê op die Duitser se bates, sê hy het ʼn “spanningsvolle” verhouding met die ster wat “emosioneel” geword het toe hy oor die trofeë gesels het waaroor hy beheer verloor het.

Die jurie het gehoor dat Becker in een gesprek met Ford gesê het: “Mark, dink jy, as jy nou in gedagte hou dat ek strafregtelik vervolg word oor dié trofeë, dat as ek toegang gehad het daartoe, ek dit nie vir jou sou gegee het nie?”

Becker se prokureur, Jonathan Laidlaw, het verduidelik die trofeë wat die wenners toegelaat word om te hou slegs miniatuur weergawes is van dit wat op die tennisbaan aan hulle oorhandig word ná hul oorwinnings.

Die hof het gehoor hoe van die 54-jarige se memorabilia verkoop is om sy skuld te delg.

“Daar was ʼn veiling wat sowat £700 000 gehaal het,” het Laidlaw gesê.

Becker het 49 enkeltitels in sy 16 jaar lange tennisloopbaan gewen. Hy ontken skuld op 24 aanklagte wat met die Wet op Insolvensie verband hou, insluitend nege aanklagte dat hy versuim het om trofeë en ander toekennings te oorhandig, asook sewe dat hy eiendom versteek het.

Becker word ook daarvan beskuldig dat hy sowat €1,13 miljoen (sowat R18 miljoen) verswyg het uit die verkope van ʼn Mercedes-handelaar wat hy in Duitsland besit het.

Hy het glo honderde duisende pond na ander rekeninge oorbetaal, insluitend dié van sy eksvrou Barbara Becker en vervreemde vrou Sharlely “Lilly” Becker.

Die hof het gehoor Becker het ʼn vorige skuldigbevinding van belastingontduiking en poging tot belastingontduiking in Duitsland in 2002.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

E ·

25% rente – daai bank klink my is ‘n bietjie inhalig – Boris, kon tennis speel, maar lyk my nie geld bestuur nie.

Pampoen ·

Dit maak nie saak wat hy gedoen het nie – dis net nie regverdig om bekers wat hy gewen het te vat nie.

Carolina ·

Hoe hartseer dat soveel top sportmense soveel geld verloor, iemand wat veronderstel om na hulle geldsake om te sien doen dit duidelik nie!

JohanR ·

Boris Becker moes miljoene verdien het ek tennis. Wat het hy met al die geld gemaak? Barty wat onlangs uit getree het op 25 het al in haar tyd $23 verdien. Teen van dag se rand rentekoers is die omtrent R356 000 000. Selfs in sy tyd het Boris Becker net R180 000 000 verdien waar is dit als heen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.