Boris gaan nie bedank oor ‘Partygate’

Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Die Britse premier, Boris Johnson, het besluit om oproepe om uit sy amp te bedank te ignoreer nadat ʼn verdoemende interne ondersoek Woensdag bevind het dat hy ʼn “kultuur van partytjies in Downingstraat toegelaat” het.

Johnson is onder die talle mense in Downingstraat wat boetes van die polisie ontvang het vir die oortreding van die Covid-19-regulasies. Die grootkoppe het onder hewige kritiek deurgeloop oor die partytjies wat tydens die Covid-19-inperking in dié straat plaasgevind het terwyl Britse burgers in hul huise vasgekluister was.

“Ek dink regtig gegewe alles wat nou aan die gang is, is dit my plig om aan te gaan en die mense van hierdie land te dien,” het Johnson by ʼn nuuskonferensie gesê.

“Dit beteken allermins dat ek nié in geheel verantwoordelikheid aanvaar vir alles wat gebeur het nie – ek is bitter spyt daaroor.”

Volgens die premier is dit nou die tyd om te fokus op mense, asook Oekraïne en die toenemende lewenskostekrisis in Brittanje.

Johnson moes nietemin ʼn stortvloed van kritiek van opposisie-LP’s in die parlement die hoof bied in reaksie op die langverwagte verslag deur senior staatsamptenaar Sue Gray.

Johnson het hiertydens aangevoer dat hy afwesig was by die meeste van die geleenthede wat ondersoek is. Hy het ontken dat hy ooit vir wetgewers gelieg het of Gray privaat genader het om haar verslag te “begrawe”.

Die amptelike opposisie, die Arbeidersparty, het gesê die “misdadigheid” wat deur Gray se verslag onthul is, bevestig die eise dat die premier moet bedank.

“Jy kan nie ʼn wetgewer én ʼn wetoortreder wees nie,” het Keir Starmer, leier van die Arbeidersparty, aan Johnson gesê. “Dit is tyd dat hy sy tasse pak.”

ʼn Vinnige meningspeiling het ʼn diepe openbare afkeer van die gebeure getoon – drie uit vyf mense dink Johnson moet bedank en ʼn driekwart van die bevolking meen dat hy bewustelik oor “Partygate” gelieg het.

Konserwatiewe LP’s – die enigste mense wat Johnson buite ʼn verkiesing uit sy amp kan dwing – lyk egter nie ywerig om teen hom op te tree nie.

Een senior lid, Tobias Ellwood, is een van ʼn paar konserwatiewes wat die eise herhaal het dat Johnson liefs moet bedank. Hy het ook sy kollegas gewaarsku dat die party moontlik die volgende algemene verkiesing in 2024 kan verloor as gevolg hiervan.

“Kan ons voortgaan om ongestoord te regeer ondanks die erosie van die vertroue van die Britse mense?” het hy in die parlement gevra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kaptein67 ·

Wys my enige land waar die wetgewers nie enige wet oortree nie. Net politiek om hom te vra om te bedank.

Robert ·

Daar is nie een in enige huidige regering wat nie 100% korrup is nie.

Grassie ·

Dit lyk vir my hierdie ou het die manier om by die werk te suip en dan marakkas te maak as hy by die huis kom. Daar was al vantevore berigte, ek dink hier op Maroela ook, dat die bure die polisie moes ontbied om die huismoles te kom kalmeer. Dit is nou nie juis ‘n volksleier wat respek afdwing nie. Miskien is die Engelse vir hom oor meer dinge kwaad as net die verbreking van die covid reëls.

domheks ·

Darem erken hy. In SA sal hulle stry tot die bitter einde.

annie ·

Ipv bedank gaan hy eerder die weerlig aflei met groot skenkings aan Oekraïene se goeie saak… Soos ‘n Church-ill van oudsher sal hy Brittanje se beaches en riches beskerm teen die skermunkel van ‘n Russia.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.