Boris Johnson sal beboet word oor ‘Partygate’

Boris Johnson (Foto: JESSICA TAYLOR/various sources/AFP)

Die Verenigde Koninkryk se eerste minister Boris Johnson en sy finansiesminister Rishi Sunak sal beboet word dat hulle Covid-19-afsonderingsregulasies oortree het, ʼn voorval wat as die “Partygate”-skandaal bekendstaan. Daar was Dinsdag ook versoeke vir hul bedanking.

“Die eerste minister en die kansellier van die staatskas het vandag kennisgewing ontvang dat die metropolitaanse polisie van voornemens is om hulle met boetekennisgewings te bedien,” het ʼn woordvoerder vir Downingstraat Dinsdag gesê.

Die aankondiging kom ná Londen se polisie gesê het hulle het meer as 50 boetes oor die partytjies uitgereik. Hulle het nie die getal mense wat beboet is of hulle identiteite bekendgemaak nie.

Keir Starmer, die leier van die opposisie die Arbeidersparty, het vinnig versoek dat die twee mees senior lede van die regering moet bedank.

“Boris Johnson en Rishi Sunak het die wet oortree en herhaaldelik vir die Britse publiek gelieg,” het Starmer op Twitter gesê. “Hulle moet albei bedank. Die Konserwatiewes is nie bekwaam om te regeer nie. Brittanje verdien beter.”

Families van die slagoffers van die Covid-19-pandemie het ook Johnson se bedanking geëis. “Dit is nou onteenseglik bewys dat, terwyl bedroefde families nie aan hul geliefdes se sy kon wees in hul laaste oomblikke nie, of alleen by hul begrafnisse moes staan, het die mense in Downingstraat, wat daarvoor verantwoordelik is om ons te beskerm, partytjies gehou en reëls oortree,” het Matt Fowler, medestigter van die Covid-19 Bereaved Families for Justice gesê.

“Dit is duidelik soos daglig dat daar ʼn kultuur van drinkery was en reëls verbreek is op die hoogste vlakke van die regering, terwyl die Britse publiek ongekende opofferings gemaak het om hul geliefdes en gemeenskappe te beskerm.”

Die polisie in Londen ondersoek bewerings dat Johnson en staatsamptenare minstens ʼn dosyn fuifpartytjies in 2020 en 2021 bygewoon het, ʼn oortreding van Brittanje se streng beperkingsregulasies in daardie stadium.

“Die ondersoek oor bewerings dat Covid-19-regulasies in Whitehall en Downingstraat oortree is, duur voort,” het die polisie Dinsdag in ʼn verklaring gesê. “Ons doen alles in ons vermoë om die ondersoek so vinnig as moontlik af te handel.”

Johnson het reeds om verskoning gevra vir die partytjies. Hy het aanvanklik ontken dat byeenkomste plaasgevind het wat die reëls oortree en het bewerings dat hy self fouteer het, verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ettienne

Nee goed dit is so … daar is individue in die Konserwatiewe Party wat nie bevoeg is om te regeer nie, maar die Arbeidersparty is verseker nie die “beter” opsie nie.

annie

Johnson se adjunk is ‘n oulike ou. Hy kan oorneem. Johnson kan gerus ophou om sy hare soos ‘n tiener te gel. Ons weet hy is ‘n ou oompie met ‘n history. Nou wil hy hoop die oorlog in die Oekraïene gaan van hom ‘n Churchill maak. Pateet!

Jacques

Plandemie………. geldmaak-foefie….

‘n Beter vraag om te vra is hoekom politieke verteenwoordigers gestraf moet word, en wie soveel mag het om demokraties-verkose leiers, voor stok te kry…..

Geld is mag…… en jou regering is dalk nie so “magtig” as wat jy dink nie.

So wie, of wat is dan werklik polities in beheer?

domheks

Wonder hoeveel geld SA kon maak om almal te beboet wat bv begrafnisse by dosyne bygewoon het. Maar die anc is mos onaantasbaar….. Net die gepeupel gehoorsaam anc mags misbruik.