Boris Johnson uit die hospitaal ontslaan

Boris Johnson. Foto: (Pippa Fowles/10 Downing Street via AP)

Die Britse eerste minister Boris Johnson is uit die hospitaal ontslaan ná hy vir Covid-19 behandel is, ʼn asemhalingsiekte wat deur die nuwe koronavirus veroorsaak word.

Die nuus is bekend gemaak net voor die regerings van Engeland, Skotland, Noord-Ierland en Wallis gesê het die getal koronavirus-verwante sterftes in die Verenigde Koninkryk het 10 000 verbygesteek.

“Ek het die afgelope sewe dae gesien onder watter druk die nasionale gesondheidsdiens (NHS) is,” het Johnson in ʼn videoboodskap op sy Twitter-rekening gesê net ná hy uit St Thomas-hospitaal in Londen ontslaan is. “Ek het die durf gesien, nie net van die dokters en verpleërs nie, maar van almal – die skoonmakers, kokke en alle gesondheidsorgwerkers. Die NHS is die hartklop van die land. Dit word deur liefde aangevuur.”

Die 55-jarige politikus is ʼn week gelede in die hospitaal opgeneem met ʼn hoë koors. Hy was drie dae lank in die hoësorgeenheid van die hospitaal.

Hy sal nie dadelik sy pligte opneem nie, op sy dokter se advies. Hy sal verder herstel by Chequers, die eersteministershuis buite Londen.

Die Verenigde Koninkryk het ongeveer 84 000 gevalle van Covid-19.

Wêreldwyd is minstens 1,85 miljoen gevalle bevestig met meer as 114 000 sterftes.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

Deel van: Wêreldnuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.