Botswana: Boetes, tronkstraf vir dié wat plastieksakke gebruik

Weggooibare plastiek word gemaak om nooit te vergaan nie en skep ’n enorme besoedelingsprobleem wêreldwyd. Foto: Facebook

Besoekers aan Botswana en inwoners van dié land wat van 1 November af met plastieksakke betrap word, kan met tot R6 700 beboet word of tot 30 dae tronkstraf kry.

Die kabinet van Suid-Afrika se buurland het besluit om van begin volgende maand af ʼn algehele verbod op winkelsakke van plastiek te plaas. Die adjunkdirekteur van omgewingsake, natuurlikehulpbronbewaring en toerisme, Frank Molebatsi, het die kabinetsbesluit einde Mei tydens ʼn werksessie oor die verbod bekendgemaak, het die land se onafhanklike dagblad, Mmegi, berig.

Hy het gesê die besluit is geneem ná verskeie vorige pogings om die toename in plastieksakke te bestuur of beheer. Pogings om die publiek op te voed oor die verantwoordelike gebruik van plastieksakke, herwinning en hergebruik het in geen geval volhoubare resultate opgelewer nie.

Molebatsi het die gebruik van plastieksakke in mense se daaglikse lewe betreur en gesê dit is nie bioafbreekbaar nie; daarom bly dit bitter lank onder die grond wanneer dit begrawe word.

Plastieksakke hou volgens hom ook gevaar vir diere in, wat kan verstik as hulle dit vreet. Dit ontwrig ook hul spysvertering en kan lei tot opblasing en eindelik ook die diere se dood.

“Weens hul ondeurdringbare en permanente eienskappe hou plastieksakke water, wat ʼn omgewing skep wat bevorderlik is vir muskiete,” het Molebatsi gesê. “Die sakke ontsier ook die omgewing omdat dit vassit aan bome en in bosse.”

Plastiek beland dikwels op strande en van daar in die see, waar na raming teen 2050 meer plastiek (in gewig) as seelewe sal wees. Foto: Facebook

Mense wat vir die eerste keer ná 1 November met plastieksakke betrap word, sal nie gestraf word nie, maar daar sal wel op die sakke beslag gelê word. Diegene wat ʼn tweede keer oortree, kan ʼn boete van tot P5 000 (sowat R6 700), tronkstraf van tot 30 dae of albei opgelê word.

Volgens die webwerf Your Botswana mag mense wel plastieksakke in hul besit hê wat gebruik is om brood in te verpak, duursame vullissakke, dun plastieksakke wat by betaalpunte verskaf word om produkte te skei (byvoorbeeld skoonmaakmiddels en gif) en plastiekverpakking wat gebruik word om produkte in te vervoer.

Intussen het die Suid-Afrikaanse kleinhandelreus Woolworths bekendgemaak dat hy, ook van November af, as ʼn ses maande lange proefneming geen plastieksakke sal voorsien in sy winkel in Steenberg in die suide van die Kaapse Skiereiland nie, berig Business Live. Klante kan hul eie sakke bring of herbruikbare sakke teen R5,50 elk koop.

Suid-Afrika is een van 40 lande met ʼn algehele of gedeeltelike verbod op die gebruik van winkelsakke van plastiek of wat spesiale belasting daarop hef. Kenia het in 2017 die strengste verbod ter wêreld op dié sakke geplaas met tronkstraf van tot vier jaar of boetes van tot R580 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Tammy ·

Uitstekende plan, maar nognie streng genoeg nie. Dit gaan nie werk nie tensy daadwerklike ingryping, sommer met die eerste oortreding al van krag is nie. Ons kan maar almal met ons herbruikbare inkopiesakke na die winkels gaan.

Karolis ·

Hoe wil jy jou maalvleis koop? Toegedraai met koerantpapier of in ‘n kartonddosie gegooi? Nieteenstaande die ongerief, nou kom die gesondheidswette ook in gedrang. Stel eerder iemand aan wat kan dink, om wette en regulasies te maak. Begin eerder by die probleem, rondstrooi van rommel. Kyk wat gebeur tydens stakings. So kan mens aangaan om voorbeelde op te noem.

Zelda ·

Hoekom koop jy jou maalvleis in n winkelsak? Want dis hoe ek verstaan… wet teen winkel sakke van plastiek….

Cherokee ·

Presiès Zelda. Kan nie sien hoe enigeen nog vir die gebruik van plastieksakke in die bres kan tree nie. Maar ons weet hoe sommiges redeneer.

Michelle ·

Ongerief vs nog 12 jaar oor om iets te doen aan klimaatsverandering?
Stem: as mense nie wil leer nie, dwing hulle. Hulle sal dit ook maar gewoond raak. Ons het hopeloos te gemaklik geraak.

Benna ·

Dit gaan oor die sakkies wat mens by die til kry die vleis sal nog in plastiek toegedraai word!

Charlene ·

Baie lande oorsee verskaf “kardoesakke” by betaalpunte. Word van herwonne papier gemaak en bio afbreekbaar. Hoekom nie so iets hier nie. Plastieksakke hier te koop net nog n manier om verbruikers te melk.

Christo ·

Plastieksakke is ‘n euwel. Die grootste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking is onopvoedbaar. Net soos eiers in karton verpakking verkoop word ipv polistireen of plastiek kan papiersakke gebruik word. In die sestigerjare het OK Bazaars papiersakke gebruik. My apteek gebruik papiersakke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.