Botswana deporteer homofobiese pastoor

'n Skermskoot van die Botswana-regering se twiet.

‘n Skermskoot van die Botswana-regering se twiet.

Die omstrede Amerikaanse pastoor Steven Anderson is Dinsdag uit Botswana gesit nadat dié land se regering hom as ʼn verbode immigrant verklaar het.

Nadat Anderson verlede week verbied is om Suid-Afrika binne te kom, het hy na Botswana gereis vir sy “siel-wen-marathon” en om met pogings te begin om ʼn kerk in dié land te stig.

Die Botswana-regering het Dinsdag op sy amptelike Twitter-profiel getwiet: “Pastoor Steven Anderson, ʼn Amerikaanse burger, is as ʼn verbode immigrant verklaar en word daarom uit Botswana gedeporteer.” Anderson het gehoop om Botswana te besoek omdat homoseksualiteit in dié land, soos in baie ander Afrika-lande, onwettig is.

Nadat Anderson se visumaansoek vir Suid-Afrika verlede week geweier is, het hy op sy Facebook-blad geskryf: “Dankie God dat ons nog ʼn wye oop deur in Botswana het”. Volgens BBC Africa is Anderson in hegtenis geneem kort nadat hy ʼn radio-onderhoud in die land se hoofstad, Gaborone, gedoen het.

Hy is ook onlangs verbied om Brittanje te betree. Anderson is wyd bekend vir sy uitsprake teen homoseksualiteit op sosiale media. Hy het glo ná die slagting op 12 Junie vanjaar in die Pulse-nagklub in Orlando, Florida, waartydens 49 persone omgekom het, aan sy lidmate gesê “daar is nou 50 minder pedofiele in die wêreld”. Die nagklub is veral deur gay persone ondersteun.

Die Suid-Afrikaanse regering het Anderson en lede van sy kerk verbied om Suid-Afrika te betree omdat hulle “haatspraak bevorder en maatskaplike geweld aanhits”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.