Botswana-regering ontken ‘massa-olifantstroping’

Olifantbeendere wat tydens die navorsingstudie gevind is. Foto: Facebook via BWgovernment

Die regering van Botswana het berigte dat tot 87 olifante binne ʼn paar weke in ʼn vlaag van stropery naby ʼn bekende wildreservaat in dié land doodgemaak is, ontken.

Dit kom nadat die BBC berig het lede van die bewaringsgroep Elephants Without Borders (EWB) het op die karkasse van die olifante afgekom nadat hulle uitgebreide lugnavorsing oor die wild naby die Okavango Delta-natuurreservaat gedoen het.

Volgens die berig het EWB dit as “een van die grootste stropingsvoorvalle nog in Afrika” bestempel. Die BBC-berig noem ook die “stropingsvoorval” kom kort nadat die regering die land se nasionale teenstropingseenheid ontwapen het.

Dié berigte is ook deur talle ander mediahuise, ook in Suid-Afrika, gepubliseer.

Die Botswana-regering het egter in ʼn verklaring gesê die mediaberigte is “ongegrond en sensasioneel” en die bewerings in die berigte “vals en misleidend”.

“In geen stadium in die afgelope paar maande is 87 of 90 olifante in een voorval of op een plek in Botswana doodgemaak nie,” lui die verklaring.

Luidens die verklaring is Elephants Without Borders (EWB) deur die regering gekontrakteer om die droogteseisoen-lugnavorsing van olifante en ander wild uit te voer in noordelike Botswana, waaronder Chobe, Okavango, Ngamiland en die Noord-Sentraal-distrik. Die studie het reeds op 5 Julie begin en sal op 30 September tot ʼn einde kom.

Volgens die verklaring het EWB teen 1 Augustus aangemeld dat hulle op 53 olifantkarkasse afgekom het. Dié olifante het gevrek tydens voorvalle wat al sedert Julie vanjaar by die regering aangemeld is en was dus nie nuwe sterftes nie. “Die meeste van die 53 olifante is nie gestroop nie, maar het gevrek weens natuurlike oorsake asook konflik tussen wild en mens.”

Die regering voer verder aan die ontwapening van die departement van wild- en nasionale parke se teenstropingseenheid het geensins ʼn invloed gehad op die doeltreffendheid van die teenstropingseenheid nie. “Die terugtrekking van die wapens van die teenstropingseenheid is in ooreenstemming met die bestaande wetgewing wat nie die departement van wild en nasionale parke toelaat om wapens te besit nie. Hierdie stap is gedoen terwyl regstellende maatreëls onderneem word.”

Die regering het beklemtoon dat die land se wildlewe deel vorm van sy nasionale erfenis en dat hy dit tot elke prys sal beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Irma ·

Daar is darem heelwat woordspelings in hul verklaring. Niksseggend. Baie woorde met min betekenis. Tipies

Ellisras ·

Dit is die Koloniale /Britse nalatenskap wat wildbewaarders verbied om wapens te dra. Nie alle nalatenskappe van die Koloniale tydperk is goed nie. Nie alles is sleg nie.

SWAK ·

Dan wil mense BOTSWANA toe vlug omdat dit daar soveel beter gaan? Julle weet maar net nie van die helfte van die goed wat daar gebeur nie. Hulle het darem die doodstraf daar, maar die stropery en ander dinge gebeur ook maar daar.

Antionette ·

Met alle respek SWAK. As mens Botswana teen Suid Afrika opmeet sal hy sonder twyfel wel bo suid afrika wees. Net soos op enige ander plek gebeur hier slegte dinge. Maar ek kan hier nog winkel toe ry sonder om my huis te sluit, hier kan jy nog met jou kinders in die staat gaan stap, kinders speel wit enn swart saam in die strate ry fiets en kan kinders wees. Die mense hier kan ek jou eerlik se behandel mekaar met respek. Talke kere is ek hier by n winkel gehelp met my pakkies dra, my ma in n rystoel selfs met haar is daar altyd n hand wat gretig help. So se nou vir my kan jy dieselfde se van SA…

marous ·

Botswana het nog altyd met geen genade teen stropers opgetree . Die ontwapening gaan hulle blootstel . Hoop Ian Khama ruk hulle terug tot werklikheid .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.