Botticelli-portret verkoop vir R1,3 miljard

Die skildery deur die Italiaanse Renaissance skilder Sandro Botticelli, het ‘n rekordprys tydens ‘n veiling by Sotheby’s in London behaal. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

ʼn Skildery deur die beroemde Italiaanse Renaissance-skilder Sandro Botticelli (1445-1510) is vir $92 miljoen (ongeveer R1,3 miljard) verkoop. Die skildery is Donderdag tydens ʼn veiling van Sotheby’s in New York verkoop.

Dit is die hoogste prys nóg vir ʼn skildery deur dié kunstenaar op ʼn veiling.

Die skildery, Jong man met ʼn medalje, is vermoedelik in die 1470’s of 1480’s geskilder en beeld ʼn jong man in sy laat tienerjare met lang goudbruin hare uit. Die man hou ʼn skyf vas met ʼn portret van ʼn bebaarde heilige, die regterhand is effens gelig. Die portret is vermoedelik geskoei op ʼn skildery van die 14-eeuse skilder Bartolomeo Bulgarini.

Die skildery van 58 x 39 cm word beskou as een van Botticelli se beste werke.

“Die werk is tydloos. Ons weet werklik nou wat die prys van skoonheid is,” het George Wachter, kenner van kuns van die Ou Meesters by Sotheby’s, gesê.

Leonardo da Vinci se skildery “Salvator Mundi” in die Louvre Museum in Parys. (Foto: FRANCOIS GUILLOT / AFP)

Christopher Apostle, vise-president van Sotheby’s, het die werk as ʼn meesterstuk beskryf. “Die portret simboliseer en illustreer die Renaissance in Florence. Ek het in my lewe nog nie iets soortgelyks gesien nie.”

Die skildery het amptelik vir $80 miljoen (ongeveer R1,2 miljard) onder die hamer gekom, maar die finale prys, wat kommissie insluit, was $92,2 miljoen (meer as R1,3 miljard). Prysgewys is dié skildery een van die belangrikste kunswerke wat nóg op ʼn veilig verkoop is.

Naas Leonardo da Vinci se Salvator Mundi is Botticelli se portret die waardevolste skildery van die Ou Meesters wat nóg opgeveil is. Leonardo se skildery is in 2017 op ʼn veiling van Christie’s vir $450 miljoen (6,8 miljard) verkoop.

Die vorige rekord vir ʼn Botticelli-skildery was in 2013 toe Madonna en Kind met die jong Johannes die Doper vir $10,4 miljoen (amper R160 miljoen) verkoop is.

Dié skildery was vir 200 jaar in die besit van ʼn aristokratiese familie in Wallis en kunskenners was nie bewus van die skildery se bestaan totdat dit vroeg in die 21ste eeu op die mark beland het nie.

Hoewel Botticelli is een van die beroemdste kunstenaars van die vroeë Renaissance-tydperk is, het net ʼn dosyn of so van sy werke behoue gebly. Sy bekendste skilderye is Die geboorte van Venus en Primavera.

“Die geboorte van Venus” deur die Italiaanse Reniassance skilder Sandro Botticelli. (Foto: Vincenzo PINTO / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Die ou ses rye voor my het R1.25 miljard geroep. Ek het toe R1.3 miljard geroep, en toe die afslaaner vra of daar nog iemand is met ‘n hoer bot toe is daar net stilte en kopskud, en toe val die hamer op my.

Daizee ·

Nou ja, as jy hom kan bekostig is jy seker darem oor die ergste sukkel!!!!

Vonkprop ·

Duidelik kan geld nie verstand koop nie. Belaglik om soveel vir ‘n skildery te betaal. Dit is nie eens mooi nie.

DieKriek ·

Miskien is dit n goeie skildery maar dit praat nie met my nie. Al wat ek sien is die klere wat lyk of dit agterstevoor aangetrek is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.