Bouery aan langste seebrug eindelik klaar

Die langste seebrug ter wêreld strek oor 55 km en sluit twee mensgemaakte eiland en ’n amper 7 km onderseetonnel in. Foto: AP Photo

Bouwerk aan die langste seebrug ter wêreld het reeds nege jaar gelede begin, maar dié peperduur verbinding tussen Hongkong en Macau en die Chinese stad Zhuhai open na verwagting eindelik vandeesweek.

China se president, Xi Jinping, sal Dinsdag ʼn geleentheid in die stad Zhuhai saam met hooggeplaaste amptenare van Hongkong en Macau bywoon, waarna die brug Woensdag vir verkeer oopgestel sal word, berig CNN.

Die 55 km lange brug, wat ook uit ʼn 6,7 km lange tonnel onder die see bestaan, strek nagenoeg so ver soos die afstand tussen die Kaapse middestad en die Paarl of Pretoria en Johannesburg. Dit sou al in 2016 geopen het, maar herhaalde vertragings het die bouwerk twee jaar langer as verwag laat duur, berig die BBC.

Altesaam nege werkers is tydens die nege jaar lange bouery dood, terwyl die begroting meermale opwaarts aangepas moes word tot ʼn beraamde R285 miljard, heelwat meer as Zimbabwe se bruto binnelandse produk en ʼn tiende van Nieu-Seeland s’n.

Die brug is deel van China se vervoerplan vir ʼn reusegebied in die suide van die land, maar private motors sal dit net kan gebruik as die bestuurder se aansoek om ʼn spesiale permit goedgekeur word, berig die Britse dagblad The Guardian.

Die brug sal hoofsaaklik gebruik word deur private pendelbusse en vragvoertuie. Geen openbare vervoer sal daarlangs ry nie.

Die projek het kwaai onder skoot gekom in Hongkong, waar die inwoners meen dis ʼn swak besteding van belastingbetalers se geld. Omgewingsbewustes verkwalik die brug vir ʼn afname in die bedreigde Chinese wit dolfyne se getalle, terwyl ander kritici glo dis net nog ʼn manier om die selfregerende gebiede Hongkong en Macau hegter aan China te verbind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HPV ·

China of die anc regime waar gaan jy beter lewe? Laat mens dink…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.