Brakkie ná 12 jaar met eienaars herenig

Zoey is ná 12 jaar met haar eienaars herenig. (Foto: BBC / San Joaquin-polisie)

’n Hond wat 12 jaar gelede vermis geraak het, is nou met haar eienaars in Kalifornië in die VSA herenig.

BBC News berig die vierpotige “gesinslid” wat Zoey heet, is onlangs uit ’n voertuig by ’n landelike eiendom naby Stockton gesmyt en agtergelaat. ’n Persoon wat op Zoey afgekom het, het die polisie ontbied en gesê die hond lyk “oud en sieklik”.

Brandon Levin, ’n beampte van die dierebeskermingsvereniging, het Zoey se mikroskyfie geskandeer en vasgestel dat sy al sedert 2010 vermis word.

“Ek het beslis nie verwag dit sal ooit gebeur nie,” het Zoey se regmatige eienaar, net bekend as Michelle, gesê.

Volgens die San Joaquin-polisie was Zoey so lank vermis dat die mikroskyfiemaatskappy haar sedert 2015 as dood op hul sisteem aangedui het.

Sy was sowat een jaar oud toe sy in 2010 uit haar eienaars se erf in Lafayette verdwyn het. Die plek waar sy nou 12 jaar later gevind is, is sowat 97 km van dié huis geleë.

Levin het haar eienaar se kontakbesonderhede by die mikroskyfiemaatskappy gekry en gevind dat haar selfoonnommer nog dieselfde is.

“Sy was heeltemal geskok,” het Levin gesê.

Volgens Michelle het sy Zoey en haar sussie by ’n diereskut gekry toe hulle sowat ses maande oud was.

“Ons het gou winkel toe gery en toe ons ná ongeveer 20 minute terugkeer, was sy skoonveld.

“Ek is opgewonde om haar huis toe te bring en gesond te kry sodat sy die res van haar lewe hier kan deurbring.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blom ·

@ Herpiet, die skyfie se inligting kan slegs gesien word as die dier geskandeer word. So indien die woef by ‘n skuiling of veearts kom en hulle skandeer die dier kan hulle die nodige inligting bekom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.